(Apologies to non-Afrikaans readers.)
Ons gesin is ‘n douvoordag gesin. Nie soseer die kinders noudat hulle tieners en jong volwassenes is nie, maar toe hulle klein was het hulle ook lekker vroeg opgestaan. Omdat ek en my man gewoonlik vroeg aan die gang is word daar selde baie laat geslaap in ons huis bloot omdat daar vroeg soggens beweging is en dis gewoonlik nie stil roeringe nie. Ek het al vantevore geskryf oor my man wat al die jare al bitter vroeg wakker word (dis dan seker voor-douvoordag) en die eskapades wanneer hy vergeet om die wekker af te sit want ek staan darem nie heeltemal so vroeg op soos hy nie.
My verhouding met die voordag kom uit my eie tienerjare toe ek probeer laat slaap het en my pa – wat self nog altyd ‘n vroegoggendmens was – my kom wakker maak het om die tuin nat te maak of te kom help met die kliëntestormloop in ons plaaswinkeltjie sesuur op ‘n Saterdagoggend. Daai tye het ek maar lekker my voete gesleep maar oor die jare het ek die goud wat vir ‘n mens wag in die vroëe oggendure leer waardeer. Ek het lief geraak daarvoor om die dag te sien breek wanneer ons die langpad gevat het met vakansies, van die eerste stadige verkleur van die horison wat die aankoms van ‘n nuwe dag aankondig, die sagte pienk, pers en blou lug wat volg en uiteindelik die son wat kop uitsteek en helder sy verskyning maak met al die belofte van ‘n nuwe dag. Deesdae is dit steeds vir my die beste en ‘n wondergevulde tyd van die dag – dis gewoonlik stil van stadsgeraas en –verkeer wat dit rustig maak en lekker om buite te wees, die voëls te hoor sing en die varsheid van die nuwe dag wat soveel hoop en belofte inhou diep in jou longe in te trek – en vir ‘n kort tydjie elke oggend voel dit asof die tyd ‘n bietjie stadiger beweeg terwyl ek my gedagtes orden en regmaak vir die dag wat voorlê.
Wanneer ek vroeg begin werskaf is ek altyd aangenaam verras oor hoeveel ek gedoen kan kry voor die dag werklik met erns begin. Dis asof daar sommer ‘n paar ekstra ure by die dag aangelas word, en dis gewoonlik produktiewe ure. Vroegmôre hou soveel verrassings in wat net wag om ontdek te word, soos die volmaan wat sak oor die oseaan of oor ‘n watergat in Etosha, om te luister na die geluide van die veld wat wakker word terwyl ons rustig koffie drink by Brandberg waar ons in die veld gekamp het of in die Kalahari waar die tyd teen sy eie pas loop of die lafenis vir die siel om die heuwel alleen uit te klim op Woody Island (naby Esperance, so 800 kilometer suidoos van Perth) voor vyf in die oggend om te kyk hoe die son oorkant die water oor die land opkom. Daar is iets omtrent die sonsopkoms (en –ondergang) wat ‘n mens dwing om vir ‘n oomblik stil te raak en een te wees met die natuur rondom jou en dit te respekteer sonder om ‘n indringer te wees met ons menslike geraasbesoedeling en die belofte van ‘n nuwe begin wat elke dag aanbreek te waardeer. Vir iemand wat foto’s neem by dosyne en werklik hartseer is as ek vir een of ander rede ‘n mooi potensiële foto nie kon neem nie, bied die vroëe oggendure soveel geleenthede en dis my gunsteling tyd van die dag.
Met die dat manlief so ‘n vroëer-as-vroeg opstaner is word ons naweekuitstappies ook gewoonlik beplan om douvoordag te begin, gewoonlik vroëer as wat ek sou verkies, want teen die tyd dat ek opstaan is sy dag al ‘n uur of wat aan die gang en trippel hy al rond om weg te kom, met die gevolg dat ek dan ook maar vroëer as gewoonlik opstaan. Soos ‘n dieselenjin wat eers moet warm word neem dit my brein ‘n tydjie om behoorlik wakker te word en nog meer so wanneer ek in die donker op manlief se verkieslike uur opstaan. Vir wedlope moet ons ook vroeg-vroeg aan die gang kom en veral vir Ironman wanneer ons omtrent drie-uur in die oggend opstaan om reg te maak en betyds te wees vir alle laaste-minuut voorbereidings.
Net die ander dag het ons twee ‘n daguitstappie na Dwellingup (so ‘n uur en ‘n half se ry suid-oos van Perth) beplan en hy wou graag sesuur die oggend in die pad val, wat beteken het ek moes vyfuur opstaan om wakker te word en reg te maak want hierdie ou dieselenjin spring nie net uit die bed en begin die dag teen ‘n honder kilometer per uur nie, dit neem ‘n koppie boeretroos of twee voor ek behoorlik funksioneer en stadig spoed optel en ek het so effens tëegeskop want dis winter en dis baie koud in die voordag-donker maar op die ou end het ek maar vyfuur opgestaan, my koffie rustig gedrink en ons het sesuur in die pad geval. ‘n Uur later is ons verras met ‘n ongelooflike sonsopkoms wat my weer van voor af laat besef het dat ten spyte van die vroegoggendkoue, moeg en slaap in my oë stel die sonsopkoms nooit teleur nie en die Afrikaanse voorvader wat hierdie gesegde uigedink het, het geweet waarvan hulle praat: die môrestond het werklik goud in die mond.
Baie mooi. Ek mis sekerlik baie van die mooi dinge in die lewe omdat ek nie vroeg in die oggend aan die gang kan kom nie. Ek maak darem op daarvoor later in die dag!
LikeLike
Baie dankie. Ek sukkel weer met laat wakkerbly. Jy’s reg, daar’s net soveel mooi om te waardeer later in die dag. Dankie vir die inloer!
LikeLiked by 1 person
Lees baie lekker en fotos “stunning” ! Doen so voort!
LikeLiked by 1 person
Dankie!
LikeLike
Die Kalahari… daar moet ek weer uitkom voor ek vrek!! Dis vir seker!! 😉
LikeLiked by 1 person
Dis ‘n baie spesiale plek vir my, ek het familie daar so ek probeer redelik gereeld daar uitkom. Dit het sy eie bekoring wat ek nog nie êrens anders raakgeloop het nie. Die veld rondom Coral Bay (so 1200km noord van Perth) is die naaste wat ek al daaraan gekom het met soortgelyke duine.
LikeLiked by 1 person
Ek wil my kamera (s) opstel en heel nag opsit en foto’s neem van die sterre end die nag lewe… ek droom!! 😉
LikeLike
En jy sal nie teleurgesteld wees nie. Die sterre daar is ongelooflik.
LikeLike