Verandering

Geskryf in opdrag van Scrapydo2 se Toeka-Tokkel: Verandering.

(Apologies to non-Afrikaans readers.)

Ek het nog nooit baie gehou van verandering nie. Ek weet nie of dit iets te doen het met die feit dat as kind, ons nooit getrek het nie. Ek het in een huis grootgeword, na een laerskool en een hoërskool gegaan. Wat wonderlike stabiliteit was as kind, het my moontlik avers gemaak vir verandering later in my lewe – wie sal ooit weet.

Ek raak tuis in my gemaksone en sien dan geen rede om enigiets daaraan te verander nie. Maar hierdie karaktertrek het ek eers met die verloop van tyd in myself herken. Ander mense is baie meer avontuurlustig en pak sommer maklik ‘n nuwe uitdaging aan. So het ek lang trane gehuil toe ek besef het my man was ernstig oor trek uit Suid-Afrika. Vanuit my (gemaksone) oogpunt het ek net nie dieselfe dringendheid ervaar nie. Op die ou end het hy my oorgehaal met ‘n avontuur in Dubai vir ‘n paar jaar.

Steeds was dit nie vir my maklik nie – die agterlaat van ‘n lewe wat opgebou is oor jare, familie, vriende en alles wat daarmee saamgaan – maar die gedagte dat dit nie permanent sou wees nie het die verandering draaglik gemaak. Dit het uitgedraai in ‘n wonderlike avontuur, al het ons vir minder as ‘n jaar daar gebly (of miskien juis vir daai rede, iets waaroor ek soms wonder. Miskien was dit juis so interressant, eksoties en anders omdat ons weer weggetrek het voordat enigiets kon alledaags raak.)

SV300017

Op pad na ons avontuur in Dubai met Emirates

Dit was in 2004. Die werksaanbod vanuit Perth het gekom drie maande nadat ons in Dubai ingetrek het. Ek het net begin aanpas by linkerhandstuur, bestuur aan die regterkant van die pad, vreemde winkels en produkte, nuwe vriende, skole en lewenstyl toe ek besef die Perth ding is ‘n werklikheid wat ek nie kon ignoreer nie. Dit was ‘n aanbod wat ons eenvoudig nie van die hand kon wys nie. Na baie sielewroeging (ek het net begin tuis voel in Dubai) het ek besef dat nog verandering en trek na ‘n derde kontinent in ‘n kwessie van 10 maande, onvermydelik is.

Noudat ek terugdink wonder ek watter verandering die grootste was – Stellenbosch na Dubai of Dubai na Perth – en dis moeilik om te sê. Stellenbosch na Dubai was ‘n groot kulturele aanpassing, maar vir dieselfde rede ook baie pret. Dit was die eerste groot verandering waarby ek myself moes belê. Bygesê, in my agterkop was dit altyd net tydelik. Om die tweede groot (en hierdie keer permanente) verandering so kort na die eerste te maak was nie maklik nie.

Maar miskien was dit die lewe se manier om my te leer dat dit moontlik is om êrens anders gelukkig te wees. Dat sodra ek die besluit gemaak het wat ek geweet het die beste sal wees vir my familie op die  langtermyn, ek dit sal maak werk. Dat ek eintlik enige plek kon woon, solank my familie gesond en veilig was. Dat ‘n lewe anders as wat ek tot 13 jaar gelede vir myself ingedink het beter kan wees. Ek moes net leer (op die harde manier vir my) om oop te wees vir ander moontlikhede.

Tyd het gelukkig ‘n manier om aan te stap en ons het kort voor lank gewoond geraak aan Perth as ons huis, en Perth het gewoond geraak aan ons. Ons is nou so tuis en gelukkig hier dat ons lewe in Stellenbosch voel soos ‘n veraf herinnering. Hierdie is nou ons lewe en realiteit en ek is so dankbaar dat ek die veranderings deurgemaak het wat ek het.

Tyd het my ook geleer dat verandering ‘n gegewe is in die lewe. Soms gebeur daai veranderings net meer geleidelik as ander kere en dis eers wanneer jy besig is om die verandering te beleef dat jy daarvan bewus word. So het ons kinders grootgeword en van die drie is nou net een nog op skool. Kinders op universiteit wat motors bestuur is weer iets anders om aan gewoond te raak. En net soos ek dink ek het hierdie fase onder die knie sal die volgende fase my seker in die gesig staar. Ek hoop die veranderings oor die jare het my darem ook gevorm en help groei as mens.

Vakansie in Denmark

(Apologies to non-Afrikaans readers.)

Geskryf na aanleiding van Scrapydo2 se Toeka-Tokkel oor vakansie.

Ons vakansiebestemming hierdie somer was Denmark, ‘n klein dorpie in suidwes Australië, 420 kilometer suid van Perth. (Die dorpie is vernoem na dr Alexander Denmark en die naam het niks te doen met die land met dieselfde naam nie.) Dis gelëe op die Denmark rivier wat uitvloei in die Wilson “inlet”, ‘n 14 kilometer lang en 4 kilometer wye meer wat uitmond in die Suidelike Oseaan.

IMG_2377

Uitsig oor Ocean Beach en die monding van die Wilson Inlet

Ons is lief daarvoor om te kamp en in die warmer maande verkies ons om suid te gaan en in die koeler maande gaan soek ons die warmer weer in die noorde. Daar’s ‘n paar karavaanparke in Denmark. Van hulle is in die dorp, ander is langs die rivier maar ons verkies die een wat buite die dorp langs die meer en naby die see is. Daar is baie gras en bome en lekker groot bome rondom die karavaanpark. Vroeg in die oggend hoor jy die voëls sing en die kookaburras lag.

IMG_2207

Green’s Pool, ‘n pragtige beskutte strand naby Denmark

Daar is geweldig baie om te doen daar rond. Daar is talle strande met pragtige skoon, wit sand en helder blou water. Wanneer ‘n mens die dag nie lus is vir see toe gaan nie kan jy kano ry op die meer of die rivier. Die eeue oue woude in die omgewing bied ‘n groot verskeidenheid van uitstekende staproetes. Of as jy minder avontuurlustig voel kan jy deur die dorpie met sy interressante winkeltjies drentel en stop vir ‘n rustige koppie koffie in een van die koffiewinkels. Daar is ‘n paar “op shops” (winkels wat tweedehandse klere en huisraad verkoop) op die dorp en ‘n mens loop soms goeie winskopies in hierdie winkels raak. Tweedehandse winkels is deel van die Australiese kultuur en mense trek nie hulle neuse daarvoor op nie. ‘n Mens kan baie goeie klere teen ‘n fraksie van die prys hier kry as jy bereid is om ‘n bietjie te snuffel. Die “Valley of the Giants” (‘n vallei met massiewe ou “red tingle” bome) en die “Treetop Walk” (‘n staalkonstruksie waarop ‘n mens hoog bo die woudvloer loop vir omtrent 600 meter, en waarvan die hoogste punt omtrent 40 meter bo die grond is) is nie ver nie. Historiese Albany waar die eerste Britse nedersetting in Wes-Australië was en vanwaar die ANZAC troepe in 1914 gevaar het na die Eerste Wêreldoorlog, is so 65 kilometer na die ooste. En helaas, as nie een van hierdie jou belangstelling prikkel nie is daar wynplase en ‘n brouery nie ver daarvandaan nie.

IMG_2412 (2)

Uitsig na Ocean Beach en die Wilson Inlet vanaf Monkey Rock waar ons gaan stap het

IMG_3015

‘n Baie ou “Red Tingle” boom naby Denmark

SV300009

‘n Deel van die “Treetop Walk”, geneem in 2005 tydens ons eerste besoek

As kind het ons soms in die somer by Knysna langs die meer gaan kamp. Brenton-on-Lake was die karavaanpark se naam. Ek weet nie of dit nog bestaan nie. Dit was in die dae voordat die area daar rondom ontwikkel is. In my geestesoog sien ek nog die brug oor die meer na Knysna en dan draai die pad na Brenton af kort voor die brug en maak so ‘n perdeskoendraai voor die pad verby Belvidere (met ‘n pragtige ou kerkie) loop vir die laaste paar kilometer na die karavaanpark.

Die Knysna-meer is waar ek leer waterski het en die somer toe ek die ligamente in my knie twee hartverskeurende weke voor die skoolvakansie geskeur het en waterski met krukke nie ‘n opsie was nie, die wonder van “paddle ski” ontdek het. Om alleen op die water te wees in die rustigheid van die vroëe oggend is iets wat ek altyd sal onthou. ‘n Paar jaar gelede toe my man wou weet wat ek wil hê vir my 40ste verjaarsdag het ek gesê: “’n kano”, en dit gee my eindelose vreugde. Daai somer het ons ook in Denmark gekamp en ek het baie gaan roei op die rivier en in die meer. Ek was vasberade om te roei van waar ons karavaanpark was tot by die dorp – 11 kilometer. Dit was ‘n koue, grys, winderige dag en die water was alles behalwe kalm. (Dis ‘n ander ding van Denmark – net soos Knysna – kan dit in die middel van die somer soms koel raak en rëen.) Ek het net aanhou roei in die basiese rigting van die riviermonding maar kon nie te veel of te ver sien nie want die wolke het laag oor die water gehang. Ek was vasbeslote en het dit uiteindelik gemaak, omtrent twee uitmergelende ure later (ek is nie roeifiks nie), en reg om ‘n warm, vars pastei by die bakkery te gaan verorber.

Hierdie jaar het ek weer op die meer gaan roei, en dit was weer bewolk en koel maar die water was lekker kalm. Ek het gewens ek het ‘n kamera by my gehad want daar was soveel watervoëls. In een swerm het ek 88 swart swane getel, en daar was verskeie swerms. Wanneer ek naby gekom het en hulle begin bang raak en probeer wegvlieg het was dit iets om te aanskou. Dit kan nie maklik wees om daai groot liggaam met die lang uitgestrekte nek uit die water uit in die lug te kry nie, en wanneer hulle wegtrek hoor jy iets klap-klap-klap-klap op die water. Toe ek nader aandag gee (ek het eers gedink dis die vlerke wat so klap op die water) sien ek hulle hardloop op die water totdat hulle voel hulle is hoog genoeg om hulle vlerke te vertrou om hulle in die lug te hou. Dis die pote wat so klap-klap op die water. Dit was kostelik. Die pelikane het iets soortgelyk gedoen maar dit het gelyk asof hulle met altwee pote tegelyk die water “skep” terwyl hulle in die lug probeer kom.

IMG_2375

Pelikane op ‘n eilandjie in die Wilson Inlet

Ek dink soms dat hierdie omgewing sy eie klein mikroklimaat het, so ver suid met baie rëenval en omring deur woude. Die weer was redelik koel toe ons daar was terwyl dit 35 grade was in Perth. Vier jaar gelede toe ons in die somer daar gekamp het was dit eendag 37 grade en dit het niks afgekoel later in die dag nie. Ons het piekniek gehou langs die rivier onder die bome maar toe die son begin sak het ons skaduwee begin verdwyn. Nood leer bid en op die ou end het ons almal in ‘n ry voor een van die groot bome in die skaduwee van die boomstam gesit. Die volgende dag het dit gerëen. Toe ek hierdie keer die laaste aand in die tent lê en luister na die rëen wat saggies buite val het dit my weer teruggeneem na die dae in Knysna toe die rëen so op die karavaan se dak en tent geval het. Dis die mooiste geluid (as jy snoesig en droog is). Om ‘n nat tent op te pak is egter nie soveel pret nie, en dit verg weer uitpak by die huis sodat dit behoorlik kan uitdroog, maar ons is lief vir ons tenthuisie en al die wedervaringe en herrinneringe wat ons al saam met die tent meegemaak het en wat veilig in die tent se sak weggepak word om volgende keer weer uitgehaal en herleef te word.

My Eerste Perd

(Apologies to non-Afrikaans readers.)

Geskryf in opdrag van Scrapydo2 se Toeka-Tokkel.

Ek was van kleins af lief vir diere en toe ons as Kaapenaars die geleentheid gekry het om perd te ry op vriende van ons se plaas in Namibië, het ons dit elke keer met albei hande aangegryp. Mettertyd is my suster met ‘n Namibiër getroud wat ook baie lief is vir perde en so saam met sy boerdery ook perde teel.

Ek was in matriek toe hulle getroud is en het gereeld vakansietye by hulle gaan kuier. Eendag terwyl ons so op die grondpad in die Kalahari verby hulle een plaas op pad na die ander een ry sê my swaer uit die bloute: “Kyk daar, daar staan jou vulletjie”. Ek was so uit die veld geslaan dat ek vir ‘n paar oomblikke nie mooi geregistreer het wat dit was wat hy gesê het nie, tot hy dit herhaal het en ek het blitsvinnig gekyk na waar hy beduie het. Daar in die veld het ‘n merrie en haar pragtige klein vul gestaan.  Ons het nie daai dag tyd gehad om te stop sodat ek haar kon ontmoet nie, en ons eerste ontmoeting het eers ‘n paar maande later met my volgende besoek gekom.

Teen die middel van die volgende jaar (ek was teen hierdie tyd ‘n eerstejaarstudent) was sy omtrent ses maande oud en die tyd reg vir my om haar te begin hanteer sodat sy kon gewoond raak aan menslike kontak. Ek het elke dag wanneer sy in die kraal was gegaan en haar gaan vryf en borsel en ‘n bietjie molasse gegee totdat sy my begin assosieer het met die lekkerny.

So het ek elke vakansie wat ek daar gekuier het, elke dag tyd met haar spandeer om haar meer en meer gewoond aan my te maak. Ek het haar geborsel en haar stert uitgekam. Ek het (alles met my swaer se geduldige leiding) geleer hoe om ‘n halter aan ‘n perd te sit wie nog nooit ‘n halter gesien het nie. Eers laat jy haar dit ruik en stadig maar seker (sonder enige vinninge bewegings), hang jy die leisels oor haar nek sodat jy iets het om aan vas te hou. Op geen stadium forseer jy haar met krag om te bly staan nie. Jy praat mooi en rustig en vryf sodat sy dink dis alles “hunkey dorey”. Volgende skuif jy die halter stadig oor haar kop sonder om haar skrik te maak. Sy het gou daaraan gewoond geraak, en toe moes sy leer om gelei te word. En ek moes leer hoe om haar te leer.

Ek het elke dag wat ek daar was omtrent ‘n uur met haar spandeer. Ons het die werf platgeloop. Sy het die lieflikste temperament gehad en my begin herken. Soms het sy genoeg gehad van die dag se stap- en leerdery en eendag het sy afgehaak en my agter in my rug gebyt. Dit was bitterlik seer en my refleks was om om te draai en baie hard te raas. Sy het dit nooit weer gedoen nie.

Teen die tyd dat sy drie jaar oud was het my swaer gesê dis nou tyd dat ek haar opklim. Teen daai tyd het ek al ‘n tyd lank geoefen om die tooms aan te sit en die saal op haar te sit sodat sy daaraan gewoond kon raak. Jy bring die saal nader en laat haar daaraan ruik en dan beweeg jy stadig na haar linkersy en sit die saal saggies op haar rug neer. Dan maak jy versigtig die buikgord vas – nie te styf nie sodat dit haar nie knyp nie. Volgende stap jy vorentoe, buk langs elkeen van haar voorbene en stoot liggies teen haar sodat sy haar gewig oorplaas op die ander voorbeen. Dan raak jy liggies aan haar knie en tel haar voorbeen op om seker te maak daar is niks vel onder die buikgord vasgeknyp nie. Alles terwyl jy met haar praat en haar vertel wat jy wil hê sy moet doen. Nadat jy dit met altwee bene gedoen het kan jy die buikgord stywer maak. As dit te los is sal die saal rondswaai as jy ry!

Elke nuwe ding wat ons bekendgestel het het sy met die grootste rustige vertroue aanvaar. Ek was steeds baie senuweeagtig om die eerste persoon te wees om haar op te klim (en dit was ook die eerste perd wat nuut geleer is wat ek ooit opgeklim het). Ek het haar opgesaal en ons het haar in ‘n baie klein kraal ingelei. My swaer het die teuels vasgehou en toe kon ek nie die oomblik van waarheid langer uitstel nie. Ek het die teuels geneem, my linkervoet in die stiebeuel gesit, my gewig oorgeswaai en stadig en saggies in die saal gaan sit. En sy het bly staan asof dit nie doodnatuurlikste ding in die wêreld was. Ek sal daai oomblik en daai gevoel nooit vergeet nie.

Op een stadium het sy lank gesukkel met ‘n wond wat sy opgedoen het toe sy geval het by ‘n waterkrip. ‘n Onbeduidende seerplek op sy eie maar vir ‘n tyd lank het ons gesukkel om die infeksie onder beheer te kry. Op die ou end het die veearts onder narkose die oorsprong van die probleem heelwat dieper af in haar been gekry: ‘n klein klippie wat gesweer het. Ek het verpleeg en wond skoongemaak en weer baie geleer.

Sy was getrou aan my vir meer as 22 jaar. Soos wat familie- en werksverpligtinge my tyd en aandag begin verg het het ek haar minder gesien maar sy het my elke keer herken. Elke keer wat ek haar gery het was die band van volkome vertroue nog net so sterk soos die vorige keer wat ek haar gesien en gery het. Later jare het ek my kinders op haar rondgelei. Die ouderdom het haar op die ou end ingehaal. Ons het al in Perth gewoon teen hierdie tyd. My swaer het laat weet dit gaan nie goed nie, maar perd uitsit is ook nie ‘n eenvoudige storie nie want hulle reageer nie altyd lekker op die inspuiting nie. Vir ‘n paar dae het ek gewroeg oor wat die regte ding is om te doen, want om haar te laat swaarkry sou ook nie reg wees nie, maar sy het gelukkig die besluit uit ons hande geneem en is een nag stil in die veld dood. Dis steeds hartseer maar ek dink met dankbaarheid aan al die ongelooflike ondervindinge wat ek saam met haar gehad het, en alles wat sy my geleer het. Daar is min dinge wat so lekker is as om jou arms om ‘n perd se ontspanne nek te vou en haar ‘n lekker stywe druk te gee. Sy het oor die jare ‘n paar pragtige vullens gehad, een waarvan nou ook myne is, en ek is baie dankbaar om te kan sê dat sy haar liefdevolle geaardheid ook aan hierdie pragtige merrie oorgedra het. Ek ry haar elke keer wat ek daar kuier, al kon ek haar nie self leer nie. Daarvoor is ek my swaer en hulle dogters baie dank verskuldig. Al woon ek ver is die herrinneringe naby.

Jan 2005 - Copy W

My vulletjiepresent as volgroeide merrie in die Kalahari

Jul 2004

Julie 2004, besig om my kinders te leer om haar te borsel

Kerskoekies (Christmas cookies)

(Please scroll down for the English version.)

My suster bak elke jaar die heerlikste Duitste kerskoekies. Lebkuchen (gemmerkoekies), pfeffernüsse (peperkoekies) en allerhande enes. Ek het dit nog nooit gemaak nie maar eendag jare gelede terwyl ons by my suster en swaer gekuier het op hulle plaas, het my man besluit om self te probeer om dit te bak. Met Duitste herkoms het hy grootgeword met baie van hierdie koekies vir Kersfees. Nadat hy met hierdie boeremeisie getrou het (wat nog nie eens op daai stadium probeer het om haar Hollandse ouma se botterkoek of spekulaaskoekies of Afrikaanse ouma se suurdeegbrood te bak nie), het hy besluit om dit doodeenvoudig self te doen.

Hy stap toe een oggend in my suster se plaaskombuis in en kondig vol brawade aan dat hy zerubskuchen (stroopkoekies) gaan maak. Die snaakse ding was dat hy nog nooit by ons eie huis geïnspireerd gevoel het om dit te maak nie maar uit die bloute daai oggend besluit het dat hy dit in haar kombuis gaan waag. Sy aankondiging het ‘n huiwerige en effens skeptiese ontvangs gekry want die kombuis was pas skoongemaak en die vloere gewas. Dis nie maklik om ‘n plaaskombuis in die Kalahari skoon te hou nie. Sand word voortdurend ingeloop en plaasbehoeftes kry voorkeur bo ander maar die kombuis was silwerskoon toe my man besluit het dis tyd om te begin bak en brou.

Hy het in sy lewe tevore nog nooit iets gebak nie maar vra toe my suster vir die resep en maak reg om te begin. Hy is ook nooit tevore geleer om die gemors wat hy maak te beperk tot ‘n hanteerbare area nie. Hy het al die bestanddele op die kombuistafel gerangskik en begin. Ek het saggies weggesluip, sodanig om na die kinders te gaan kyk, en weggebly van die kombuis af. Toe ek dink dis veilig om terug te gaan is ek begroet deur ‘n gesig wat ek nooit sal vergeet nie. Dit het gelyk asof vyf sakke meel op en rondom die tafel ontplof het. In die pas skoongemaakte kombuis nogal. Te midde van dit alles het my man gestaan met ‘n brëe glimlag om sy mond – baie trots op die koekies wat hy besig was om te bak. Die ergste was dat die meel nie net oor die tafel gestrooi was nie. Dit het deur die gapings van die houttafel op die vloer geval. Orals.

My arme suster het net agter my ingeloop, die gemors een kyk gegee, daarin geslaag om darem nie haar sin vir humor heeltemal te verloor nie en met haar onwrikbare diplomasie hom mooi gevra om skoon te maak. Sy entoesiasme was geensins gedemp nie. Dit was amper asof hy nie die gemors kon raaksien nie. Hy’t klaargemaak en begin opruim maar selfs met sy altyd teenwoordige optimisme het hy hulp nodig gehad in hierdie department. Hy sou dit net nie op dieselfde standaard kon skoon kry as wat dit voor die tyd was nie.

Sedertdien het hy nog nie weer probeer om kerskoekies te bak nie maar maak wel sy ma se mieliebrood – ‘n soet weergawe wat nie my gunsteling is nie – maar hy is mal daaroor en maak dit nou self. Ek is net verlig dat dit nie nodig is om ‘n klomp meel oor die kombuistafel of –toonbank uit te sprei om mieliebrood te maak nie want dit blyk na die jare steeds dat die skoonmaakdeel van die proses nog onder opleiding is.

Ek het toe die ander dag my suster se lebkuchen en pfeffernüsse gemaak (maar ek sou nie sê hulle is so lekker soos hare nie) – die pfeffernüsse (wat so klein soos neute moet wees) het ek reggekry om amper so groot soos golfballe te maak. Ten minste proe hulle darem beter as iets wat ‘n mens in die winkel sou koop.  Hopelik sal my man nie voel dis nodig om hulle te maak as ek aanhou om hulle te bak nie…

Kerskoekies of te not, ek wens almal ‘n baie Gesëende Kersfees toe gevul met vreugde en liefde.

 

IMG_1522

Lebkuchen and oversized Pfeffernüsse I baked the other day

 

Christmas Cookies

My sister bakes the most divine Christmas cookies every year. German ones.  Lebkuchen (ginger bread cookies), pfeffernüsse (pepper nuts) and all sorts. I’ve never made them but years ago once while visiting my sister and brother-in-law on their farm, my husband decided the time was right for him to try his hand at it. Being of German descent, there used to be lots of these Christmas cookies around every Christmas when he was growing up. After marrying this Afrikaans girl (who hadn’t even tried to make any of her Dutch grandmother’s butter cake or speculaas cookies or her Afrikaans grandmother’s sour dough bread at that stage), he was just going to do it himself.

He walked into my sister’s farm kitchen one morning and declared that he was going to make zerubskuchen (syrup cookies). The funny thing is that he’d never been inspired to do it at our own home but decided out of the blue on that day that he was going to make it in her kitchen. His announcement was greeted a little skeptically as the kitchen had just been cleaned and the floors washed. It’s not easy to keep a farm kitchen in the Kalahari clean. Sand keeps getting trodden into the house and farm needs take precedence over others but the kitchen was sparkling clean when my husband decided it was time for him to try his hand at baking.

He’d never before baked anything in his life but asked my sister for the recipe and got started. Neither had he ever been trained to contain the mess he makes to a certain limited area. It was just always done by someone else. He arranged all the ingredients out on the kitchen table and got stuck in. I slunk away on the premise of having to look after the kids and kept clear of the area. When I deemed it safe to venture inside again I was greeted by a sight to behold. It looked like five bags of flour had exploded on and around the kitchen table. In the middle of it all stood my smiling husband. Quite proud of the cookies he was making. To make matters worse, the flour wasn’t contained to the table. It had fallen through the gaps in the wood on the table and was all over the floor as well. Everywhere.

My poor sister walked in after me, took one look at the mess, managed to hold back her sense of humour failure and with her unwavering diplomacy asked him nicely to clean up. His enthusiasm wasn’t diminished at all. It’s almost like the mess was invisible to him. He finished up and started to clean up but despite his ever present optimism he needed help in this department. He wasn’t going to manage to clean it to the same standard that it had been done earlier.

He hasn’t attempted to bake Christmas cookies since, but he has been making his mom’s mealie (corn) bread. It’s quite sweet and not really my favourite but he loves it and now makes it himself. I’m just relieved that mealie bread doesn’t require a lot of flour to be spread out over the kitchen bench or table because the cleaning part of the process seems to still be in training.

I tried my hand at my sister’s lebkuchen and pfeffernüsse recipes the other day and (though I don’t think it’s to her standard – the pfeffernüsse which are supposed to be the size of nuts turned out more like golf balls) but at least they taste better than something you can buy in a shop. Hopefully if I continue to bake them my husband won’t feel the need to do it…

With or without Christmas cookies, I wish you all a Merry and Blessed Christmas filled with joy and love.

IMG_7772 W

Festive times

Bestuur

(Apologies to non-Afrikaans readers.)

Geskryf na aanleiding van Scrapydo se Toeka-Tokkel onderwerp vir die week: Bestuur. Ek het leer bestuur op ons kleinhoewe in die Kaap – enigiets van ons klein Isuzu Elf trokkie (dit was so stadig my pa het altyd gesê jy kan sommer uit tweede rat uit wegtrek) tot ons Kombi. Wanneer my pa die dag met my op die pad gaan ry het het hy besluit hy het ‘n sterker kreet as “Stop” nodig gehad wanneer ek nie gou genoeg gereageer het nie. Om die dringendheid van sommige situasies aan my oor te dra het hy besluit dat “Nood stop!”, “Nood stop!” die gewenste uitwerking sal hê. Vir ‘n tyd lank het dit mooi gewerk tot ek (met tipiese 17-jarige alwetendheid) eendag toe hy weer roep “Nood stop!” so skielik, so hard op die rem getrap het dat my arme pa se kop die truspiëeltjie voor teen die venster losgestamp het. Ek het darem geleer wat ek moes leer om my lisensie te kry die dag na my 18e verjaarsdag. Die verkeersbeampte het nogal gesê “Jy is gretig om jou lisensie te kry” toe hy na my ID kyk en sien ek is 18 jaar en 1 dag oud.

So het ek die Kaapse paaie vir die volgende veertien jaar gery tot ons Dubai toe getrek het in 2004. Gelukkig het ek nie nodig gehad om weer ‘n bestuurstoets daar te doen nie, maar ek het bitter vining hare op my tande gegroei toe ek op daai paaie begin bestuur het. Die eerste nuwe ding waaraan ek gewoond moes raak was linkerhandstuur en dan om te ry aan die regterkant van die pad. En niemand ry stadig op daai paaie nie. As jy nie selfgeldend bestuur en vir jouself ‘n plek neem nie bly jy agter. Die grootste verandering was om teen jou instink in eerste links te kyk en dan regs. Ek is aan die diep kant ingegooi want sommige dae moes ek die kinders by die skool gaan optel en die padwerke en verkeer tussen ons huis in Dubai en die skool in Sharjah (die volgende Emiritaat) was rof. Sit nou daarby die instruksies van ”as jy hier ry kyk uit vir die Dubai/Abu Dhabi teken, dan is dit 3 “interchanges” en dan neem jy daai afdraai. As jy soontoe gaan, moet jy die Ras al Khor afdraai neem, maar dit sê nie Ras al Khor op die borde totdat jy al klaar afgedraai het nie. (!!!!) Onthou altyd: Route 311 (Emirates Road) en Route 44.” Hoe onthou ‘n mens al hierdie goed die eerste keer sonder ‘n toetslopie terwyl karre verby jou ry en voor jou inry voordat jy nog ‘n kans gehad het om dit te registreer? Ek het dit darem gemaak tot by Sharjah maar die eerste keer wat ek uit die stad uit huis toe gery het, het ek reg verby ons woonbuurt se afdraai geskiet (alles lyk dieselfde in die woestyn) en kort voor lank was daar net sandduine in sig en manlief het net sy kop geskud “want hy het mos vir my instruksies gegee voor ons uit die stad weg is”.

Daar was baie verkeerssirkels of “roundabouts” soos hulle daar genoem word, sommige met vier bane reg rondom met verkeer wat konstant van alle kante af insny. Op ‘n stadium het ons erge wind en sandstorms beleef en die lug was vaal en deinserig en ‘n mens kon min sien. Eendag het dit behoorlik gestorm en toe ek en die kinders verby Nad al Sheba (die Perde- en Kameelrenbaan) ry, sê ek vir die kinders ek is seker die kamele kan nie in ‘n sandstorm oefen nie. Elke keer wat ons daar verbygery het het ons die “canimals”, soos driejarige Kind Nr 3 hulle genoem het, sien oefen. Duidelik was die kamele en ruiters meer gehard as ons want daar was hulle: getrou soos altyd, selfs in die middel van ‘n sandstorm. Die kinders was gefassineer deur die kamele. Op die terugpad was een hele baan van Emirates Road naby Nad al Sheba toe onder die sand!

Die dag van Kind Nr 3 se eerste swemles by die Dubai Country Club moes ek vir die eerste keer self soontoe ry. Die eerste deel van die pad was op ‘n pad wat ek ken, maar dan was daar ‘n paar snaakse draaie. Om alles verder te kompliseer moes ek ‘n vrou ontmoet by die Country Club voor die swemles, oor ‘n moontlike gratis maand lidmaadskap maar eers moes ek wag tot die skoolbus vir Kind Nr 1 en Nr 2 afgelaai het. Alles het goed gegaan tot ek by die tweede snaakse draai reguit gery in plaas van afgedraai het. Die naaste afdraai wat ek toe kry bring my toe by Nad al Sheba (die Kameelrenbaan) se ingang! Die laaste plek waar ek wou wees! Manlief het gebel en gevra of ons al daar is. Ek sê nee ek het verkeerd gery maar ek sien hier is aanwysings na Emirates Road, ek sal my pad vind van daar af. Famous last words. By Emirates Road gekom neem ek dit toe verkeerde kant toe. Wat andersins nie ‘n groot probleem sou wees nie want jy neem mos net weer die volgende afrit en draai om. Die enigste probleem is dat die volgende afrit toe eers 20km verder is! Toe ek op die pad kom het ek geweet hier’s ‘n probleem, want dis dieselfde pad as die een wat ons Abu Dhabi toe geneem het! Ek wou nie Abu Dhabi toe gaan nie, dis 150km weg! Teen daai tyd was ek al so moedeloos ek het begin vra wat kan dan nou nog verkeerd loop. Toe gaan die petrol liggie aan! Terwyl dit alles aan die gang is sing James Brown oor die radio “I feel good!” Miskien jy James Brown, maar nie ek nie. Die uiteinde was dat ons heeltemaal laat was vir my afspraak en Kind Nr 3 se swemles. Die hele petalje (van waar ek verkeerd gery het tot terug by die huis, met nood aanwysings van manlief tussendeur per selfoon), het ‘n uur geduur en dit het my gekos by die huis swem met Kind Nr 3 omdat sy so hartseer was oor haar swemles wat sy gemis het. En dit op die eerste dag hier wat koel was, vries ek toe in die swembad vir my sondes.

Na ‘n paar maande daar het my selfvertroue darem bietjie beter geraak en naderhand het ek graag die pad Sharjah toe aangedurf om te gaan rondsnuffel by die bekende Blue Souk (mark). Een middag moes ek Kind Nr 2 dringend by die hospitaal kry nadat sy ‘n allergiese reaksie vir sekere medikasie ontwikkel het, en ek het soos ‘n wafferse wedrendrywer my hoofligte aangesit, in die vinninge baan in beweeg en my voet neergesit. Nood leer regtig bid. Later van tyd het ek selfs – na ek die padkaart mooi bestudeer het (dit was voor die tyd van “Google Maps”) – Dubai se middestad aangedurf om te gaan verken.

Na al daai adrenaliengevulde ondervindings op die paaie was Perth se paaie ‘n groot kontras want almal het mooi by die 100km/h spoedlimiet gehou op die snelweg. Net toe ek begin gewoond raak het aan Dubai se paaie het ons weer getrek en toe lees ek weer van voor af padkaart, maar gelukkig het alles rondom my aan die “regte” kant van die pad en teen ‘n respektabele spoed beweeg. Een deel van my Dubai-bestuurstyl het egter veroorsaak dat ek eendag nie lank na ons in Perth aangekom het nie, deur die polisie van die pad afgetrek is. Groot was my skok want ek hou daarvan om die regte ding te doen maar dit blyk toe dat U-draaie by verkeersligte hier in Perth onwettig is. Ek verduidelik toe mooi dat ek nie geweet het nie en dat dit in Dubai ‘n groot deel van die verkeerstelsel vorm. Hulle laat my toe maar gaan na ‘n waarskuwing.

So het ons gewoon en bestuur in Afrika met sy koedoe-, vlakvark- en olifantswaarskuwingsbordjies, toe in Dubai met kameelwaarskuwingsbordjies en nou in Australië met kangaroowaarskuwingsbordjies. En die tyd het vinning aangestap en ons moes al ons oudste twee kinders leer bestuur so ek het ‘n paar maal al gedink aan my pa se “Nood stop” kreet. Sommige dae wanneer ek langs die leerder-bestuurder gesit het kon ek letterlik voel hoe kry ek nog grys hare by die minuut en my hart het in my keel geklop en nou en dan skop my regtervoet onwillekeurig vorentoe vas om ‘n spookrempedaal in ‘n nood stop vas te trap, en dan moet ek myself herinner om asem te haal tot ons weer by die volgende situasie kom. Hoe het die tyd dan so vinning verbygegaan vandat ek leer bestuur het tot ek my kinders moet leer bestuur?

Koedoe waarskuwingsbordjie in Namibië

Koedoewaarskuwingsbordjie in Namibië

Vlakvark waarskuwingsbordjie in Namibië

Vlakvarkwaarskuwingsbordjie in Namibië

'n Kameel waarskuwingsbord naby Dubai

‘n Kameelwaarskuwingsbord naby Dubai

'n Hoofpad buite Dubai - net nadat ons die kameel waarskuwingsbord gesien het.

‘n Hoofpad buite Dubai – net nadat ons die kameel waarskuwingsbord gesien het.

Die Paneelkloppers Oudit

(Apologies to non-Afrikaans readers)

Die ander dag toe ek in die dokter se spreekkamer sit sien ek dat hy hout blokke onder sy lessenaar se kante ingesit het. Doodgewone boer-maak-‘n-plan ongeverfde hout blokke om die lessenaar hoër te maak en ergonies beter in te rig. Dit lyk sommer so ‘n bietjie “affie plaas” soos my ma altyd gesê het maar dit laat my toe sommer heel op my gemak voel – niks aangeplakte super moderne of pretensieuse meubels waarvoor ek as pasiënt in elk geval indirek sou betaal het nie. En toe laat dit my terugdink aan ‘n oudit jare gelede waar ek ook by so ‘n “kunsmatig” verhoogde lessenaar gesit en werk het.

Dit was omtrent 20 jaar gelede toe ek nog ‘n klerk was by ‘n ouditeursfirma. Ons moes ‘n oudit gaan doen by ‘n klein dorpie naby Klerksdorp, daai een wat nie snork nie. Dit was by verre die interressantste oudit wat ek ooit meegemaak het (ja ek weet, gegewe die aard van ouditkunde sê dit nie veel nie maar hou in gedagte dat ouditering nooit die gunsteling deel van my klerkskap was nie). In teendeel, maar ons moes almal daardeur. Hierdie spesifieke oudit was van ‘n paneelkloppersmaatskappy. Hulle besigheid bestaan uit die herstel van motors, trokke, masjiene en allerhande goed wat vuil en vol ghries is en dis ook waaruit die perseel bestaan het, soos te verwagte is. Soos by baie besighede was die kantore ‘n noodgedwonge toevoeging tot die perseel bloot omdat die telefoon êrens geantwoord moet kan word (soveel te beter ‘n entjie weg van die geraas van die paneelkloppery) en rekords moet gehou word, verkieslik nie tussen die spaar parte nie. Die kantoor is definitief nie die hartklop van die besigheid nie, en geld word nie gemors om die versiering daarvan esteties sag-op-die-oog te maak nie.

Nou ja, daar was drie van ons op die oudit – ons baas, ‘n mede-klerk en ekself. Ons baas het die lessenaar in die eienaar se kantoor gebruik, Mede-Klerk moes êrens in die ontvangsarea sit waar die ontvangsdame probeer het om die geraas van die werkery uit te doof met die radio (en ons baas het elke keer wat hy daar verbygeloop het die radio sagter gedraai, net sodat die ontvangsdame dit weer harder kon draai sodra hy verby is), en ek sit toe sonder ‘n plek om te werk. Die probleem is egter blitsvinnig opgelos nadat my baas gevra het dat daar vir my ‘n lessenaar ingedra moet word in die kantoor waar hy gewerk het want daar was spasie. ‘n Lessenaar is ingedra en geplaas reg vir my om te begin werk. Die enigste probleem was dat die lessenaar net 30cm bo die grond was. Stel jou voor: so hoog soos ‘n liniaal bo die grond. Die kante was afgesaag sodat dit vir ‘n ander doel gebruik kon word (duidelik nie vir iemand om by te sit en werk nie). En siende dat ek nooit die vaardigheid aangeleer het om onder ‘n lessenaar te lê en met die papiere teen die onderkant van die lessenaar vasgedruk te oudit – amper soos die herstel van ‘n motor – nie, was my enigste opsie om plat op die vloer voor dit te gaan sit. As ek op ‘n stoel voor dit gaan sit het sou ek gevoel het soos ‘n reus wat aansit vir ‘n ietwat onverfynde weergawe van “high tea” met klein feetjies. Ek kon nie eens my bene inpas nie, wat nog te sê enige werk gedoen kry.

Teen hierdie tyd is die manne wat die lessenaar so hulpvaardig ingedra het lankal weer aan die werk en my baas gaan roep toe weer hulp (weer by die radio verby – sagter, harder, sagter, harder). “Bring iets wat ons onder hierdie lessenaar kan sit om dit op te lig asseblief” en kort voor lank het daar ongeërg iets te voorskyn gekom in die vorm van vier vindingryke wielvellings wat op hulle sykante onder die vier hoeke van die lessenaar ingesit is en so is my werkplek toe sonder seremonie ingerig met dekor wat goed inpas by die besigheid. Ek was skoon stil, eers van verbasing en toe in ‘n poging om my lag in te hou vir hierdie prentjie, ek kon niks sê nie.  Dit was nie skoon wielvellings nie maar daar was geen kans dat ek daaroor sou kla nie. Ek het al genoeg mense uit die werk gehou met my eise eers vir ‘n lessenaar en toe vir ‘n hoër lessenaar! Bid jou dit aan, so ‘n veeleisende ouditklerk! Dis ingerig asof dit die mees logiese en alledaagse oplossing was en teen diè tyd het my baas al begin kriewelrig raak want ek was nog nie produktief aan die werk nie.

Ek het maar my lag probeer sluk en plek ingeneem voor die lessenaar en moes heel ernstig (met die gepaste mate van erns wat deur ‘n oudit vereis word) voort oudit, maar dit was nie maklik nie. Elke keer wat Mede-Klerk ingeloop het en my werkplek bekyk het kon ek hom hoor snork soos hy probeer om sy lag in te hou en dan moes ek hom herinner dat nommer 1: ons was besig met ernstige besigheid hierso en nommer 2: in hierdie dorp snork ons nie, of ek het die onderwerp verander en hom gevra hoeveel keer die volume knoppie van die radio al daai dag verstel is. Dit sou interressante statistieke gemaak het. Ons het seker heeltemal uit plek gelyk, ge-“suit” en ge-“tie” (wel die twee mans was, ek was heel sedig in kantoordrag) – ‘n mens trek tog professioneel aan want jy werk – maar in die omgewing waar ons was het ons seker uitgestaan soos ‘n seer oog. My mooi kantoorkleertjies tussen die wielvellings.

So het ons vir ‘n paar dae geoudit tussen die ”panel beating” geraas, “wheel rims” en spaar parte deur met Mede-Klerk wat die radio-volume “standoff” (‘n mens kan dit nie eens ‘n dooiepunt noem nie want dit impliseer ‘n poging tot onderhandeling wat nie geslaag het nie, en daar was geen sprake van onderhandeling nie) al hoe snaakser vind en met smaak die nuutste episode vir my oorvertel wanneer ons middagete geëet het of klaar was vir die dag. Beide “hard” en “sag” het standpunt ingeneem en verseg om ‘n aks toe te gee, dit was heel amusant. Laat Vrydagmiddag stap ek uit om iemand ‘n vraag te gaan vra toe was almal klaar gewerk vir die week en besig om ‘n koue bier te drink maar die enigste geskikte plek vir hulle was tussen die rakke met al die spaar parte, toe draai ek maar op my hakke om asof ek iets baie belangriks vergeet het en gaan herdink die belangrikheid van die vraag wat ek wou vra. Dit het skielik baie onbenullig gevoel en ek het die ouditrisiko gaan heroorweeg en ‘n ander oplossing gesoek. Dink jou dit in – die jong 23-jarige prinses wat haar wàt verbeel en sê die lae lessenaar is nie goed genoeg nie (soos ‘n ertjie in haar bed) wat nou hulle bier-drink uurtjie aan die einde van ‘n lang harde week wil kom onderbreek met onbenullige ouditvrae? Nee wat, vergeet maar.

So het die oudit ook tot ‘n einde gekom maar die ding wat my die meeste sal bybly was daai vier wielvellings en elke keer wat ek by die dokter kom en die hout blokke onder sy lessenaar sien sal ek my lag moet sluk want in my geestesoog sien ek net wielvellings en hoor paneelkloppery.

Die naaste foto wat ek kon kry aan hoe die wielvellings onder die lessenaar gesit is, maar die lessenaar het nie naastenby so mooi geverf en kunstig soos hierdie gelyk nie. (Photo credit: The Adventures of Miss Piggy)

Die naaste foto wat ek kon kry aan hoe die wielvellings onder die lessenaar gesit is, maar die lessenaar het nie naastenby so mooi geverf en kunstig soos hierdie gelyk nie. 20 Jaar gelede het ons mos nie selfone gehad waarmee ons foto’s kon neem nie. (Photo credit: The Adventures of Miss Piggy)

Afrikaners in Perth

I’m very excited today. My post about celebrating our 10 year anniversary in Perth has just been published in the on-line edition of a South African magazine after I translated it into Afrikaans. This is the link:

http://www.sarie.com/lewe-liefdes/reise/suid-afrikaanse-gesin-se-lewe-australie/

The original English version is here: https://searchingforironman.com/2015/01/23/10-years-in-this-great-southern-land/

Die Môrestond het Goud in die Mond

(Apologies to non-Afrikaans readers.)

Ons gesin is ‘n douvoordag gesin. Nie soseer die kinders noudat hulle tieners en jong volwassenes is nie, maar toe hulle klein was het hulle ook lekker vroeg opgestaan. Omdat ek en my man gewoonlik vroeg aan die gang is word daar selde baie laat geslaap in ons huis bloot omdat daar vroeg soggens beweging is en dis gewoonlik nie stil roeringe nie. Ek het al vantevore geskryf oor my man wat al die jare al bitter vroeg wakker word (dis dan seker voor-douvoordag) en die eskapades wanneer hy vergeet om die wekker af te sit want ek staan darem nie heeltemal so vroeg op soos hy nie.

My verhouding met die voordag kom uit my eie tienerjare toe ek probeer laat slaap het en my pa – wat self nog altyd ‘n vroegoggendmens was – my kom wakker maak het om die tuin nat te maak of te kom help met die kliëntestormloop in ons plaaswinkeltjie sesuur op ‘n Saterdagoggend. Daai tye het ek maar lekker my voete gesleep maar oor die jare het ek die goud wat vir ‘n mens wag in die vroëe oggendure leer waardeer. Ek het lief geraak daarvoor om die dag te sien breek wanneer ons die langpad gevat het met vakansies, van die eerste stadige verkleur van die horison wat die aankoms van ‘n nuwe dag aankondig, die sagte pienk, pers en blou lug wat volg en uiteindelik die son wat kop uitsteek en helder sy verskyning maak met al die belofte van ‘n nuwe dag. Deesdae is dit steeds vir my die beste en ‘n wondergevulde tyd van die dag – dis gewoonlik stil van stadsgeraas en –verkeer wat dit rustig maak en lekker om buite te wees, die voëls te hoor sing en die varsheid van die nuwe dag wat soveel hoop en belofte inhou diep in jou longe in te trek – en vir ‘n kort tydjie elke oggend voel dit asof die tyd ‘n bietjie stadiger beweeg terwyl ek my gedagtes orden en regmaak vir die dag wat voorlê.

Wanneer ek vroeg begin werskaf is ek altyd aangenaam verras oor hoeveel ek gedoen kan kry voor die dag werklik met erns begin. Dis asof daar sommer ‘n paar ekstra ure by die dag aangelas word, en dis gewoonlik produktiewe ure. Vroegmôre hou soveel verrassings in wat net wag om ontdek te word, soos die volmaan wat sak oor die oseaan of oor ‘n watergat in Etosha, om te luister na die geluide van die veld wat wakker word terwyl ons rustig koffie drink by Brandberg waar ons in die veld gekamp het of in die Kalahari waar die tyd teen sy eie pas loop of die lafenis vir die siel om die heuwel alleen uit te klim op Woody Island (naby Esperance, so 800 kilometer suidoos van Perth) voor vyf in die oggend om te kyk hoe die son oorkant die water oor die land opkom. Daar is iets omtrent die sonsopkoms (en –ondergang) wat ‘n mens dwing om vir ‘n oomblik stil te raak en een te wees met die natuur rondom jou en dit te respekteer sonder om ‘n indringer te wees met ons menslike geraasbesoedeling en die belofte van ‘n nuwe begin wat elke dag aanbreek te waardeer. Vir iemand wat foto’s neem by dosyne en werklik hartseer is as ek vir een of ander rede ‘n mooi potensiële foto nie kon neem nie, bied die vroëe oggendure soveel geleenthede en dis my gunsteling tyd van die dag.

Die volmaan wat sak oor die Indiese Oseaan (geneem naby Hillarys, Perth)

Die volmaan wat sak oor die Indiese Oseaan (geneem naby Hillarys, Perth)

Die volmaan sak oor die watergat by Okaukuejo, Etosha, Namibië

Die volmaan sak oor die watergat by Okaukuejo, Etosha, Namibië

Sonsopkoms in die Kalahari

Sonsopkoms in die Kalahari

Sonsopkoms oor Cape Le Grande National Park geneem vanaf Woody Island

Sonsopkoms oor Cape Le Grande National Park geneem vanaf Woody Island

Met die dat manlief so ‘n vroëer-as-vroeg opstaner is word ons naweekuitstappies ook gewoonlik beplan om douvoordag te begin, gewoonlik vroëer as wat ek sou verkies, want teen die tyd dat ek opstaan is sy dag al ‘n uur of wat aan die gang en trippel hy al rond om weg te kom, met die gevolg dat ek dan ook maar vroëer as gewoonlik opstaan. Soos ‘n dieselenjin wat eers moet warm word neem dit my brein ‘n tydjie om behoorlik wakker te word en nog meer so wanneer ek in die donker op manlief se verkieslike uur opstaan. Vir wedlope moet ons ook vroeg-vroeg aan die gang kom en veral vir Ironman wanneer ons omtrent drie-uur in die oggend opstaan om reg te maak en betyds te wees vir alle laaste-minuut voorbereidings.

Net die ander dag het ons twee ‘n daguitstappie na Dwellingup (so ‘n uur en ‘n half se ry suid-oos van Perth) beplan en hy wou graag sesuur die oggend in die pad val, wat beteken het ek moes vyfuur opstaan om wakker te word en reg te maak want hierdie ou dieselenjin spring nie net uit die bed en begin die dag teen ‘n honder kilometer per uur nie, dit neem ‘n koppie boeretroos of twee voor ek behoorlik funksioneer en stadig spoed optel en ek het so effens tëegeskop want dis winter en dis baie koud in die voordag-donker maar op die ou end het ek maar vyfuur opgestaan, my koffie rustig gedrink en ons het sesuur in die pad geval. ‘n Uur later is ons verras met ‘n ongelooflike sonsopkoms wat my weer van voor af laat besef het dat ten spyte van die vroegoggendkoue, moeg en slaap in my oë stel die sonsopkoms nooit teleur nie en die Afrikaanse voorvader wat hierdie gesegde uigedink het, het geweet waarvan hulle praat: die môrestond het werklik goud in die mond.

Sonsopkoms naby Dwellingup

Sonsopkoms naby Dwellingup

Grootwordjare

 

Apologies to non-Afrikaans readers, but every now and then I might write something in my mother tongue, something that’s been nagging in the back of my mind for a while now.

Geskryf na aanleiding van Toeka-Tokkel: Grootword (ek is ‘n so laat met hierdie pos, dis toeka al se onderwerp). Dis redelik lank vandat ek enigiets anders as ‘n nuus email aan familie in Afrikaans geskryf het en toe ek oor die onderwerp begin dink was die eerste ding wat die titel in my gedagtes laat opkom het Laurika Rauch wat sing: “Ek het in my kinderjare…” (uit: “Kyk hoe glinster die maan”). En wanneer ‘n liedjie in my kop vassteek laat los dit my nie sommer nie.

My kinderjare was ‘n tyd van sorgvry kaalvoet loop en wegkruip onder my bed sodat my ma my nie in die werk kon steek terwyl ek Knikkie gelees het nie. Grootword op ‘n kleinhoewe het beteken dat ons na die draad gestap het, ons buremaatjie geroep het en so oor en weer gespeel het. Ons was bevoorreg om spasie rondom ons te hê en nie beklemd net ‘n paar meter van die bure se huis af te woon nie; ons het vars wortels uit die grond getrek, die sand daarvan afgeskud en dit net daar geëet, en net so ook boontjies van die rank af gepluk en geëet met ‘n uitsig oor Tafelberg – soms skoon en oop of andersins toe onder sy wolkekombers. Elke Sondag was daar die heerlikste vars gebraaide hoender vir middagete en wintertye het ons knus voor die antrasietkaggel gesit. Ons het nie geweet van wegneemetes nie, en Spur toe gaan was ‘n groot bederf.

Vakansietye het lang paaie Namibië of Knysna toe beteken. ‘n Boer kan nie sy plaas summier laat staan om te gaan vakansie hou nie so ons het by tye vir twee jaar lank uitgesien na ons volgende weggaanvakansie. Ek kan goed onthou hoe my pa ons ou geel Kombi gepak het sodat ek en my suster albei ‘n lêplek kan hê op die lang pad en op pad Namibië toe in die winter het ons die vensters afgedraai hoe verder noord ons gery en die weer warmer begin raak het. Biltong en naartjies was die beste padkos en hande by die venster uitsteek en die persoon wat voor jou sit deur die oop venster met ‘n sproei van gedrukte naartjieskil verras, die beste vermaak. Later jare het ons kinders die dorpe langs die N7 geken en ons vordering so gemeet en ek onthou nog die kamele by Noordoewer waar ons soms oorgeslaap het. Stilhou by Vingerklip (en weer en weer op volgende geleenthede want ek het so baie daarvan gehou ek het altyd gevra om weer te gaan kyk) en die wonder van die natuur aanskou en dan ook jare later in Desember 1989 weer daar stop net na die beroemde klip hartseer geval en verkrummel het. Die enkele keer wat ons (as ‘n baie groot bederf) Windhoek toe gevlieg het vir ‘n kort vakansie was vliegtuigry nog ‘n formele affêre en ons het ons beste klere aangetrek (en is ironies op die vliegtuig deur rokers omring) en deur vriende van my ouers by die lughawe opgetel met hulle bakkie en ek en my pa het agterop gesit in ons Sondagklere tussen die koffers. Wind in die hare gesoek wie kan die eerste wild raaksien.

Buite Grootfontein op ‘n plaas by ander vriende het ek die wonder van suurroom wat gemaak is van vars melk ontdek, en leer biltong maak in ‘n vleiskamer wat slegs gaas gehad het vir vensters sodat die biltong en droëwors kon winddroog, maar wat ook beteken het ons hande in die nat biltong het gevries totdat ons nie ons vingers kon voel nie. In my geestesoog sien ek nog duidelik die prentjie van my vierjarige self wat saam met my ouers en sussie sit op die bankies wat hang agter in ‘n Hercules vliegtuig – een waarvan ek die dreuning enige plek sal herken – die keer toe ons vanaf Grootfontein na Pretoria lugmagbasis gevlieg het na my bababoetie oorlede is terwyl ons met vakansie was, en sy klein wit kissie voor ons. ‘n Herinnering wat ‘n groot indruk gemaak het maar nie mooi verstaan is deur ‘n vierjarige nie.

Die pad terug vanaf vakansies in Namibië was sinoniem met kouer en natter weer en male sonder tal het die Clanwilliam dam oorgeloop teen die tyd dat ons weer daar verbygery het op pad Kaap toe – altyd ‘n teken van goeie rëen. Dieselfde Clanwilliam dam waar ons soms warm somersdae verwyl het op waterski’s. Knysna was waar ek leer waterski het en lekker geval het ook, en die beste tyd van die dag was 6 uur soggens voor al die ander bote wakker geword en die spiëelglad water omgewoel het (al het ek as tiener lekker gekla omdat ek self nog nie mooi wakker was nie en my Pa my en my suster beurtelings die koue water ingestuur het om die boot nader te bring), en oujaarsaande op Knysna was tradisioneel vetkoekaande.

Waterski by Clanwilliamdam in die laat tagtigerjare

Waterski by Clanwilliamdam in die laat tagtigerjare

My liefde vir diere het ook sy oorsprong in my kinderjare en ek kan nie ‘n tyd onthou sonder troeteldiere nie. Die besondere voorreg om ‘n vulletjie present gegee te word in my laat tienerjare deur my suster en swaer en die ondervinding om toe te leer hoe om ‘n jong perd te leer terwyl ek haar geleer het deur ure van liefdevolle aandag en geduld en haar self die eerste keer stadig, baie rustig en in ‘n beheerde omgewing opgeklim het sal ek vir niks verruil nie al het sy my een keer gebyt en ‘n ander keer (per ongeluk) vierkantig op my voet gaan staan.

My vulletjiepresent as volgroeide merrie in die Kalahari

My vulletjiepresent as volgroeide merrie in die Kalahari

En toe ‘n paar jaar later was daar, soos Laurika sing: “’n man so soet soos suiker… en in sy hande ‘n diamant”. En nou, tussendeur die nakom van daaglikse verantwoordelikhede, storm en drang en soms kopstamp met drie spruite wat heeltemal te vinning grootword, die hoop dat ons ons kinders goeie herinneringe van hulle eie kinderjare gee.