Verandering

Geskryf in opdrag van Scrapydo2 se Toeka-Tokkel: Verandering.

(Apologies to non-Afrikaans readers.)

Ek het nog nooit baie gehou van verandering nie. Ek weet nie of dit iets te doen het met die feit dat as kind, ons nooit getrek het nie. Ek het in een huis grootgeword, na een laerskool en een hoërskool gegaan. Wat wonderlike stabiliteit was as kind, het my moontlik avers gemaak vir verandering later in my lewe – wie sal ooit weet.

Ek raak tuis in my gemaksone en sien dan geen rede om enigiets daaraan te verander nie. Maar hierdie karaktertrek het ek eers met die verloop van tyd in myself herken. Ander mense is baie meer avontuurlustig en pak sommer maklik ‘n nuwe uitdaging aan. So het ek lang trane gehuil toe ek besef het my man was ernstig oor trek uit Suid-Afrika. Vanuit my (gemaksone) oogpunt het ek net nie dieselfe dringendheid ervaar nie. Op die ou end het hy my oorgehaal met ‘n avontuur in Dubai vir ‘n paar jaar.

Steeds was dit nie vir my maklik nie – die agterlaat van ‘n lewe wat opgebou is oor jare, familie, vriende en alles wat daarmee saamgaan – maar die gedagte dat dit nie permanent sou wees nie het die verandering draaglik gemaak. Dit het uitgedraai in ‘n wonderlike avontuur, al het ons vir minder as ‘n jaar daar gebly (of miskien juis vir daai rede, iets waaroor ek soms wonder. Miskien was dit juis so interressant, eksoties en anders omdat ons weer weggetrek het voordat enigiets kon alledaags raak.)

SV300017

Op pad na ons avontuur in Dubai met Emirates

Dit was in 2004. Die werksaanbod vanuit Perth het gekom drie maande nadat ons in Dubai ingetrek het. Ek het net begin aanpas by linkerhandstuur, bestuur aan die regterkant van die pad, vreemde winkels en produkte, nuwe vriende, skole en lewenstyl toe ek besef die Perth ding is ‘n werklikheid wat ek nie kon ignoreer nie. Dit was ‘n aanbod wat ons eenvoudig nie van die hand kon wys nie. Na baie sielewroeging (ek het net begin tuis voel in Dubai) het ek besef dat nog verandering en trek na ‘n derde kontinent in ‘n kwessie van 10 maande, onvermydelik is.

Noudat ek terugdink wonder ek watter verandering die grootste was – Stellenbosch na Dubai of Dubai na Perth – en dis moeilik om te sê. Stellenbosch na Dubai was ‘n groot kulturele aanpassing, maar vir dieselfde rede ook baie pret. Dit was die eerste groot verandering waarby ek myself moes belê. Bygesê, in my agterkop was dit altyd net tydelik. Om die tweede groot (en hierdie keer permanente) verandering so kort na die eerste te maak was nie maklik nie.

Maar miskien was dit die lewe se manier om my te leer dat dit moontlik is om êrens anders gelukkig te wees. Dat sodra ek die besluit gemaak het wat ek geweet het die beste sal wees vir my familie op die  langtermyn, ek dit sal maak werk. Dat ek eintlik enige plek kon woon, solank my familie gesond en veilig was. Dat ‘n lewe anders as wat ek tot 13 jaar gelede vir myself ingedink het beter kan wees. Ek moes net leer (op die harde manier vir my) om oop te wees vir ander moontlikhede.

Tyd het gelukkig ‘n manier om aan te stap en ons het kort voor lank gewoond geraak aan Perth as ons huis, en Perth het gewoond geraak aan ons. Ons is nou so tuis en gelukkig hier dat ons lewe in Stellenbosch voel soos ‘n veraf herinnering. Hierdie is nou ons lewe en realiteit en ek is so dankbaar dat ek die veranderings deurgemaak het wat ek het.

Tyd het my ook geleer dat verandering ‘n gegewe is in die lewe. Soms gebeur daai veranderings net meer geleidelik as ander kere en dis eers wanneer jy besig is om die verandering te beleef dat jy daarvan bewus word. So het ons kinders grootgeword en van die drie is nou net een nog op skool. Kinders op universiteit wat motors bestuur is weer iets anders om aan gewoond te raak. En net soos ek dink ek het hierdie fase onder die knie sal die volgende fase my seker in die gesig staar. Ek hoop die veranderings oor die jare het my darem ook gevorm en help groei as mens.