My Eerste Perd

(Apologies to non-Afrikaans readers.)

Geskryf in opdrag van Scrapydo2 se Toeka-Tokkel.

Ek was van kleins af lief vir diere en toe ons as Kaapenaars die geleentheid gekry het om perd te ry op vriende van ons se plaas in Namibië, het ons dit elke keer met albei hande aangegryp. Mettertyd is my suster met ‘n Namibiër getroud wat ook baie lief is vir perde en so saam met sy boerdery ook perde teel.

Ek was in matriek toe hulle getroud is en het gereeld vakansietye by hulle gaan kuier. Eendag terwyl ons so op die grondpad in die Kalahari verby hulle een plaas op pad na die ander een ry sê my swaer uit die bloute: “Kyk daar, daar staan jou vulletjie”. Ek was so uit die veld geslaan dat ek vir ‘n paar oomblikke nie mooi geregistreer het wat dit was wat hy gesê het nie, tot hy dit herhaal het en ek het blitsvinnig gekyk na waar hy beduie het. Daar in die veld het ‘n merrie en haar pragtige klein vul gestaan.  Ons het nie daai dag tyd gehad om te stop sodat ek haar kon ontmoet nie, en ons eerste ontmoeting het eers ‘n paar maande later met my volgende besoek gekom.

Teen die middel van die volgende jaar (ek was teen hierdie tyd ‘n eerstejaarstudent) was sy omtrent ses maande oud en die tyd reg vir my om haar te begin hanteer sodat sy kon gewoond raak aan menslike kontak. Ek het elke dag wanneer sy in die kraal was gegaan en haar gaan vryf en borsel en ‘n bietjie molasse gegee totdat sy my begin assosieer het met die lekkerny.

So het ek elke vakansie wat ek daar gekuier het, elke dag tyd met haar spandeer om haar meer en meer gewoond aan my te maak. Ek het haar geborsel en haar stert uitgekam. Ek het (alles met my swaer se geduldige leiding) geleer hoe om ‘n halter aan ‘n perd te sit wie nog nooit ‘n halter gesien het nie. Eers laat jy haar dit ruik en stadig maar seker (sonder enige vinninge bewegings), hang jy die leisels oor haar nek sodat jy iets het om aan vas te hou. Op geen stadium forseer jy haar met krag om te bly staan nie. Jy praat mooi en rustig en vryf sodat sy dink dis alles “hunkey dorey”. Volgende skuif jy die halter stadig oor haar kop sonder om haar skrik te maak. Sy het gou daaraan gewoond geraak, en toe moes sy leer om gelei te word. En ek moes leer hoe om haar te leer.

Ek het elke dag wat ek daar was omtrent ‘n uur met haar spandeer. Ons het die werf platgeloop. Sy het die lieflikste temperament gehad en my begin herken. Soms het sy genoeg gehad van die dag se stap- en leerdery en eendag het sy afgehaak en my agter in my rug gebyt. Dit was bitterlik seer en my refleks was om om te draai en baie hard te raas. Sy het dit nooit weer gedoen nie.

Teen die tyd dat sy drie jaar oud was het my swaer gesê dis nou tyd dat ek haar opklim. Teen daai tyd het ek al ‘n tyd lank geoefen om die tooms aan te sit en die saal op haar te sit sodat sy daaraan gewoond kon raak. Jy bring die saal nader en laat haar daaraan ruik en dan beweeg jy stadig na haar linkersy en sit die saal saggies op haar rug neer. Dan maak jy versigtig die buikgord vas – nie te styf nie sodat dit haar nie knyp nie. Volgende stap jy vorentoe, buk langs elkeen van haar voorbene en stoot liggies teen haar sodat sy haar gewig oorplaas op die ander voorbeen. Dan raak jy liggies aan haar knie en tel haar voorbeen op om seker te maak daar is niks vel onder die buikgord vasgeknyp nie. Alles terwyl jy met haar praat en haar vertel wat jy wil hê sy moet doen. Nadat jy dit met altwee bene gedoen het kan jy die buikgord stywer maak. As dit te los is sal die saal rondswaai as jy ry!

Elke nuwe ding wat ons bekendgestel het het sy met die grootste rustige vertroue aanvaar. Ek was steeds baie senuweeagtig om die eerste persoon te wees om haar op te klim (en dit was ook die eerste perd wat nuut geleer is wat ek ooit opgeklim het). Ek het haar opgesaal en ons het haar in ‘n baie klein kraal ingelei. My swaer het die teuels vasgehou en toe kon ek nie die oomblik van waarheid langer uitstel nie. Ek het die teuels geneem, my linkervoet in die stiebeuel gesit, my gewig oorgeswaai en stadig en saggies in die saal gaan sit. En sy het bly staan asof dit nie doodnatuurlikste ding in die wêreld was. Ek sal daai oomblik en daai gevoel nooit vergeet nie.

Op een stadium het sy lank gesukkel met ‘n wond wat sy opgedoen het toe sy geval het by ‘n waterkrip. ‘n Onbeduidende seerplek op sy eie maar vir ‘n tyd lank het ons gesukkel om die infeksie onder beheer te kry. Op die ou end het die veearts onder narkose die oorsprong van die probleem heelwat dieper af in haar been gekry: ‘n klein klippie wat gesweer het. Ek het verpleeg en wond skoongemaak en weer baie geleer.

Sy was getrou aan my vir meer as 22 jaar. Soos wat familie- en werksverpligtinge my tyd en aandag begin verg het het ek haar minder gesien maar sy het my elke keer herken. Elke keer wat ek haar gery het was die band van volkome vertroue nog net so sterk soos die vorige keer wat ek haar gesien en gery het. Later jare het ek my kinders op haar rondgelei. Die ouderdom het haar op die ou end ingehaal. Ons het al in Perth gewoon teen hierdie tyd. My swaer het laat weet dit gaan nie goed nie, maar perd uitsit is ook nie ‘n eenvoudige storie nie want hulle reageer nie altyd lekker op die inspuiting nie. Vir ‘n paar dae het ek gewroeg oor wat die regte ding is om te doen, want om haar te laat swaarkry sou ook nie reg wees nie, maar sy het gelukkig die besluit uit ons hande geneem en is een nag stil in die veld dood. Dis steeds hartseer maar ek dink met dankbaarheid aan al die ongelooflike ondervindinge wat ek saam met haar gehad het, en alles wat sy my geleer het. Daar is min dinge wat so lekker is as om jou arms om ‘n perd se ontspanne nek te vou en haar ‘n lekker stywe druk te gee. Sy het oor die jare ‘n paar pragtige vullens gehad, een waarvan nou ook myne is, en ek is baie dankbaar om te kan sê dat sy haar liefdevolle geaardheid ook aan hierdie pragtige merrie oorgedra het. Ek ry haar elke keer wat ek daar kuier, al kon ek haar nie self leer nie. Daarvoor is ek my swaer en hulle dogters baie dank verskuldig. Al woon ek ver is die herrinneringe naby.

Jan 2005 - Copy W

My vulletjiepresent as volgroeide merrie in die Kalahari

Jul 2004

Julie 2004, besig om my kinders te leer om haar te borsel

Die Môrestond het Goud in die Mond

(Apologies to non-Afrikaans readers.)

Ons gesin is ‘n douvoordag gesin. Nie soseer die kinders noudat hulle tieners en jong volwassenes is nie, maar toe hulle klein was het hulle ook lekker vroeg opgestaan. Omdat ek en my man gewoonlik vroeg aan die gang is word daar selde baie laat geslaap in ons huis bloot omdat daar vroeg soggens beweging is en dis gewoonlik nie stil roeringe nie. Ek het al vantevore geskryf oor my man wat al die jare al bitter vroeg wakker word (dis dan seker voor-douvoordag) en die eskapades wanneer hy vergeet om die wekker af te sit want ek staan darem nie heeltemal so vroeg op soos hy nie.

My verhouding met die voordag kom uit my eie tienerjare toe ek probeer laat slaap het en my pa – wat self nog altyd ‘n vroegoggendmens was – my kom wakker maak het om die tuin nat te maak of te kom help met die kliëntestormloop in ons plaaswinkeltjie sesuur op ‘n Saterdagoggend. Daai tye het ek maar lekker my voete gesleep maar oor die jare het ek die goud wat vir ‘n mens wag in die vroëe oggendure leer waardeer. Ek het lief geraak daarvoor om die dag te sien breek wanneer ons die langpad gevat het met vakansies, van die eerste stadige verkleur van die horison wat die aankoms van ‘n nuwe dag aankondig, die sagte pienk, pers en blou lug wat volg en uiteindelik die son wat kop uitsteek en helder sy verskyning maak met al die belofte van ‘n nuwe dag. Deesdae is dit steeds vir my die beste en ‘n wondergevulde tyd van die dag – dis gewoonlik stil van stadsgeraas en –verkeer wat dit rustig maak en lekker om buite te wees, die voëls te hoor sing en die varsheid van die nuwe dag wat soveel hoop en belofte inhou diep in jou longe in te trek – en vir ‘n kort tydjie elke oggend voel dit asof die tyd ‘n bietjie stadiger beweeg terwyl ek my gedagtes orden en regmaak vir die dag wat voorlê.

Wanneer ek vroeg begin werskaf is ek altyd aangenaam verras oor hoeveel ek gedoen kan kry voor die dag werklik met erns begin. Dis asof daar sommer ‘n paar ekstra ure by die dag aangelas word, en dis gewoonlik produktiewe ure. Vroegmôre hou soveel verrassings in wat net wag om ontdek te word, soos die volmaan wat sak oor die oseaan of oor ‘n watergat in Etosha, om te luister na die geluide van die veld wat wakker word terwyl ons rustig koffie drink by Brandberg waar ons in die veld gekamp het of in die Kalahari waar die tyd teen sy eie pas loop of die lafenis vir die siel om die heuwel alleen uit te klim op Woody Island (naby Esperance, so 800 kilometer suidoos van Perth) voor vyf in die oggend om te kyk hoe die son oorkant die water oor die land opkom. Daar is iets omtrent die sonsopkoms (en –ondergang) wat ‘n mens dwing om vir ‘n oomblik stil te raak en een te wees met die natuur rondom jou en dit te respekteer sonder om ‘n indringer te wees met ons menslike geraasbesoedeling en die belofte van ‘n nuwe begin wat elke dag aanbreek te waardeer. Vir iemand wat foto’s neem by dosyne en werklik hartseer is as ek vir een of ander rede ‘n mooi potensiële foto nie kon neem nie, bied die vroëe oggendure soveel geleenthede en dis my gunsteling tyd van die dag.

Die volmaan wat sak oor die Indiese Oseaan (geneem naby Hillarys, Perth)

Die volmaan wat sak oor die Indiese Oseaan (geneem naby Hillarys, Perth)

Die volmaan sak oor die watergat by Okaukuejo, Etosha, Namibië

Die volmaan sak oor die watergat by Okaukuejo, Etosha, Namibië

Sonsopkoms in die Kalahari

Sonsopkoms in die Kalahari

Sonsopkoms oor Cape Le Grande National Park geneem vanaf Woody Island

Sonsopkoms oor Cape Le Grande National Park geneem vanaf Woody Island

Met die dat manlief so ‘n vroëer-as-vroeg opstaner is word ons naweekuitstappies ook gewoonlik beplan om douvoordag te begin, gewoonlik vroëer as wat ek sou verkies, want teen die tyd dat ek opstaan is sy dag al ‘n uur of wat aan die gang en trippel hy al rond om weg te kom, met die gevolg dat ek dan ook maar vroëer as gewoonlik opstaan. Soos ‘n dieselenjin wat eers moet warm word neem dit my brein ‘n tydjie om behoorlik wakker te word en nog meer so wanneer ek in die donker op manlief se verkieslike uur opstaan. Vir wedlope moet ons ook vroeg-vroeg aan die gang kom en veral vir Ironman wanneer ons omtrent drie-uur in die oggend opstaan om reg te maak en betyds te wees vir alle laaste-minuut voorbereidings.

Net die ander dag het ons twee ‘n daguitstappie na Dwellingup (so ‘n uur en ‘n half se ry suid-oos van Perth) beplan en hy wou graag sesuur die oggend in die pad val, wat beteken het ek moes vyfuur opstaan om wakker te word en reg te maak want hierdie ou dieselenjin spring nie net uit die bed en begin die dag teen ‘n honder kilometer per uur nie, dit neem ‘n koppie boeretroos of twee voor ek behoorlik funksioneer en stadig spoed optel en ek het so effens tëegeskop want dis winter en dis baie koud in die voordag-donker maar op die ou end het ek maar vyfuur opgestaan, my koffie rustig gedrink en ons het sesuur in die pad geval. ‘n Uur later is ons verras met ‘n ongelooflike sonsopkoms wat my weer van voor af laat besef het dat ten spyte van die vroegoggendkoue, moeg en slaap in my oë stel die sonsopkoms nooit teleur nie en die Afrikaanse voorvader wat hierdie gesegde uigedink het, het geweet waarvan hulle praat: die môrestond het werklik goud in die mond.

Sonsopkoms naby Dwellingup

Sonsopkoms naby Dwellingup

Grootwordjare

 

Apologies to non-Afrikaans readers, but every now and then I might write something in my mother tongue, something that’s been nagging in the back of my mind for a while now.

Geskryf na aanleiding van Toeka-Tokkel: Grootword (ek is ‘n so laat met hierdie pos, dis toeka al se onderwerp). Dis redelik lank vandat ek enigiets anders as ‘n nuus email aan familie in Afrikaans geskryf het en toe ek oor die onderwerp begin dink was die eerste ding wat die titel in my gedagtes laat opkom het Laurika Rauch wat sing: “Ek het in my kinderjare…” (uit: “Kyk hoe glinster die maan”). En wanneer ‘n liedjie in my kop vassteek laat los dit my nie sommer nie.

My kinderjare was ‘n tyd van sorgvry kaalvoet loop en wegkruip onder my bed sodat my ma my nie in die werk kon steek terwyl ek Knikkie gelees het nie. Grootword op ‘n kleinhoewe het beteken dat ons na die draad gestap het, ons buremaatjie geroep het en so oor en weer gespeel het. Ons was bevoorreg om spasie rondom ons te hê en nie beklemd net ‘n paar meter van die bure se huis af te woon nie; ons het vars wortels uit die grond getrek, die sand daarvan afgeskud en dit net daar geëet, en net so ook boontjies van die rank af gepluk en geëet met ‘n uitsig oor Tafelberg – soms skoon en oop of andersins toe onder sy wolkekombers. Elke Sondag was daar die heerlikste vars gebraaide hoender vir middagete en wintertye het ons knus voor die antrasietkaggel gesit. Ons het nie geweet van wegneemetes nie, en Spur toe gaan was ‘n groot bederf.

Vakansietye het lang paaie Namibië of Knysna toe beteken. ‘n Boer kan nie sy plaas summier laat staan om te gaan vakansie hou nie so ons het by tye vir twee jaar lank uitgesien na ons volgende weggaanvakansie. Ek kan goed onthou hoe my pa ons ou geel Kombi gepak het sodat ek en my suster albei ‘n lêplek kan hê op die lang pad en op pad Namibië toe in die winter het ons die vensters afgedraai hoe verder noord ons gery en die weer warmer begin raak het. Biltong en naartjies was die beste padkos en hande by die venster uitsteek en die persoon wat voor jou sit deur die oop venster met ‘n sproei van gedrukte naartjieskil verras, die beste vermaak. Later jare het ons kinders die dorpe langs die N7 geken en ons vordering so gemeet en ek onthou nog die kamele by Noordoewer waar ons soms oorgeslaap het. Stilhou by Vingerklip (en weer en weer op volgende geleenthede want ek het so baie daarvan gehou ek het altyd gevra om weer te gaan kyk) en die wonder van die natuur aanskou en dan ook jare later in Desember 1989 weer daar stop net na die beroemde klip hartseer geval en verkrummel het. Die enkele keer wat ons (as ‘n baie groot bederf) Windhoek toe gevlieg het vir ‘n kort vakansie was vliegtuigry nog ‘n formele affêre en ons het ons beste klere aangetrek (en is ironies op die vliegtuig deur rokers omring) en deur vriende van my ouers by die lughawe opgetel met hulle bakkie en ek en my pa het agterop gesit in ons Sondagklere tussen die koffers. Wind in die hare gesoek wie kan die eerste wild raaksien.

Buite Grootfontein op ‘n plaas by ander vriende het ek die wonder van suurroom wat gemaak is van vars melk ontdek, en leer biltong maak in ‘n vleiskamer wat slegs gaas gehad het vir vensters sodat die biltong en droëwors kon winddroog, maar wat ook beteken het ons hande in die nat biltong het gevries totdat ons nie ons vingers kon voel nie. In my geestesoog sien ek nog duidelik die prentjie van my vierjarige self wat saam met my ouers en sussie sit op die bankies wat hang agter in ‘n Hercules vliegtuig – een waarvan ek die dreuning enige plek sal herken – die keer toe ons vanaf Grootfontein na Pretoria lugmagbasis gevlieg het na my bababoetie oorlede is terwyl ons met vakansie was, en sy klein wit kissie voor ons. ‘n Herinnering wat ‘n groot indruk gemaak het maar nie mooi verstaan is deur ‘n vierjarige nie.

Die pad terug vanaf vakansies in Namibië was sinoniem met kouer en natter weer en male sonder tal het die Clanwilliam dam oorgeloop teen die tyd dat ons weer daar verbygery het op pad Kaap toe – altyd ‘n teken van goeie rëen. Dieselfde Clanwilliam dam waar ons soms warm somersdae verwyl het op waterski’s. Knysna was waar ek leer waterski het en lekker geval het ook, en die beste tyd van die dag was 6 uur soggens voor al die ander bote wakker geword en die spiëelglad water omgewoel het (al het ek as tiener lekker gekla omdat ek self nog nie mooi wakker was nie en my Pa my en my suster beurtelings die koue water ingestuur het om die boot nader te bring), en oujaarsaande op Knysna was tradisioneel vetkoekaande.

Waterski by Clanwilliamdam in die laat tagtigerjare

Waterski by Clanwilliamdam in die laat tagtigerjare

My liefde vir diere het ook sy oorsprong in my kinderjare en ek kan nie ‘n tyd onthou sonder troeteldiere nie. Die besondere voorreg om ‘n vulletjie present gegee te word in my laat tienerjare deur my suster en swaer en die ondervinding om toe te leer hoe om ‘n jong perd te leer terwyl ek haar geleer het deur ure van liefdevolle aandag en geduld en haar self die eerste keer stadig, baie rustig en in ‘n beheerde omgewing opgeklim het sal ek vir niks verruil nie al het sy my een keer gebyt en ‘n ander keer (per ongeluk) vierkantig op my voet gaan staan.

My vulletjiepresent as volgroeide merrie in die Kalahari

My vulletjiepresent as volgroeide merrie in die Kalahari

En toe ‘n paar jaar later was daar, soos Laurika sing: “’n man so soet soos suiker… en in sy hande ‘n diamant”. En nou, tussendeur die nakom van daaglikse verantwoordelikhede, storm en drang en soms kopstamp met drie spruite wat heeltemal te vinning grootword, die hoop dat ons ons kinders goeie herinneringe van hulle eie kinderjare gee.