Vakansie in Denmark

(Apologies to non-Afrikaans readers.)

Geskryf na aanleiding van Scrapydo2 se Toeka-Tokkel oor vakansie.

Ons vakansiebestemming hierdie somer was Denmark, ‘n klein dorpie in suidwes Australië, 420 kilometer suid van Perth. (Die dorpie is vernoem na dr Alexander Denmark en die naam het niks te doen met die land met dieselfde naam nie.) Dis gelëe op die Denmark rivier wat uitvloei in die Wilson “inlet”, ‘n 14 kilometer lang en 4 kilometer wye meer wat uitmond in die Suidelike Oseaan.

IMG_2377

Uitsig oor Ocean Beach en die monding van die Wilson Inlet

Ons is lief daarvoor om te kamp en in die warmer maande verkies ons om suid te gaan en in die koeler maande gaan soek ons die warmer weer in die noorde. Daar’s ‘n paar karavaanparke in Denmark. Van hulle is in die dorp, ander is langs die rivier maar ons verkies die een wat buite die dorp langs die meer en naby die see is. Daar is baie gras en bome en lekker groot bome rondom die karavaanpark. Vroeg in die oggend hoor jy die voëls sing en die kookaburras lag.

IMG_2207

Green’s Pool, ‘n pragtige beskutte strand naby Denmark

Daar is geweldig baie om te doen daar rond. Daar is talle strande met pragtige skoon, wit sand en helder blou water. Wanneer ‘n mens die dag nie lus is vir see toe gaan nie kan jy kano ry op die meer of die rivier. Die eeue oue woude in die omgewing bied ‘n groot verskeidenheid van uitstekende staproetes. Of as jy minder avontuurlustig voel kan jy deur die dorpie met sy interressante winkeltjies drentel en stop vir ‘n rustige koppie koffie in een van die koffiewinkels. Daar is ‘n paar “op shops” (winkels wat tweedehandse klere en huisraad verkoop) op die dorp en ‘n mens loop soms goeie winskopies in hierdie winkels raak. Tweedehandse winkels is deel van die Australiese kultuur en mense trek nie hulle neuse daarvoor op nie. ‘n Mens kan baie goeie klere teen ‘n fraksie van die prys hier kry as jy bereid is om ‘n bietjie te snuffel. Die “Valley of the Giants” (‘n vallei met massiewe ou “red tingle” bome) en die “Treetop Walk” (‘n staalkonstruksie waarop ‘n mens hoog bo die woudvloer loop vir omtrent 600 meter, en waarvan die hoogste punt omtrent 40 meter bo die grond is) is nie ver nie. Historiese Albany waar die eerste Britse nedersetting in Wes-Australië was en vanwaar die ANZAC troepe in 1914 gevaar het na die Eerste Wêreldoorlog, is so 65 kilometer na die ooste. En helaas, as nie een van hierdie jou belangstelling prikkel nie is daar wynplase en ‘n brouery nie ver daarvandaan nie.

IMG_2412 (2)

Uitsig na Ocean Beach en die Wilson Inlet vanaf Monkey Rock waar ons gaan stap het

IMG_3015

‘n Baie ou “Red Tingle” boom naby Denmark

SV300009

‘n Deel van die “Treetop Walk”, geneem in 2005 tydens ons eerste besoek

As kind het ons soms in die somer by Knysna langs die meer gaan kamp. Brenton-on-Lake was die karavaanpark se naam. Ek weet nie of dit nog bestaan nie. Dit was in die dae voordat die area daar rondom ontwikkel is. In my geestesoog sien ek nog die brug oor die meer na Knysna en dan draai die pad na Brenton af kort voor die brug en maak so ‘n perdeskoendraai voor die pad verby Belvidere (met ‘n pragtige ou kerkie) loop vir die laaste paar kilometer na die karavaanpark.

Die Knysna-meer is waar ek leer waterski het en die somer toe ek die ligamente in my knie twee hartverskeurende weke voor die skoolvakansie geskeur het en waterski met krukke nie ‘n opsie was nie, die wonder van “paddle ski” ontdek het. Om alleen op die water te wees in die rustigheid van die vroëe oggend is iets wat ek altyd sal onthou. ‘n Paar jaar gelede toe my man wou weet wat ek wil hê vir my 40ste verjaarsdag het ek gesê: “’n kano”, en dit gee my eindelose vreugde. Daai somer het ons ook in Denmark gekamp en ek het baie gaan roei op die rivier en in die meer. Ek was vasberade om te roei van waar ons karavaanpark was tot by die dorp – 11 kilometer. Dit was ‘n koue, grys, winderige dag en die water was alles behalwe kalm. (Dis ‘n ander ding van Denmark – net soos Knysna – kan dit in die middel van die somer soms koel raak en rëen.) Ek het net aanhou roei in die basiese rigting van die riviermonding maar kon nie te veel of te ver sien nie want die wolke het laag oor die water gehang. Ek was vasbeslote en het dit uiteindelik gemaak, omtrent twee uitmergelende ure later (ek is nie roeifiks nie), en reg om ‘n warm, vars pastei by die bakkery te gaan verorber.

Hierdie jaar het ek weer op die meer gaan roei, en dit was weer bewolk en koel maar die water was lekker kalm. Ek het gewens ek het ‘n kamera by my gehad want daar was soveel watervoëls. In een swerm het ek 88 swart swane getel, en daar was verskeie swerms. Wanneer ek naby gekom het en hulle begin bang raak en probeer wegvlieg het was dit iets om te aanskou. Dit kan nie maklik wees om daai groot liggaam met die lang uitgestrekte nek uit die water uit in die lug te kry nie, en wanneer hulle wegtrek hoor jy iets klap-klap-klap-klap op die water. Toe ek nader aandag gee (ek het eers gedink dis die vlerke wat so klap op die water) sien ek hulle hardloop op die water totdat hulle voel hulle is hoog genoeg om hulle vlerke te vertrou om hulle in die lug te hou. Dis die pote wat so klap-klap op die water. Dit was kostelik. Die pelikane het iets soortgelyk gedoen maar dit het gelyk asof hulle met altwee pote tegelyk die water “skep” terwyl hulle in die lug probeer kom.

IMG_2375

Pelikane op ‘n eilandjie in die Wilson Inlet

Ek dink soms dat hierdie omgewing sy eie klein mikroklimaat het, so ver suid met baie rëenval en omring deur woude. Die weer was redelik koel toe ons daar was terwyl dit 35 grade was in Perth. Vier jaar gelede toe ons in die somer daar gekamp het was dit eendag 37 grade en dit het niks afgekoel later in die dag nie. Ons het piekniek gehou langs die rivier onder die bome maar toe die son begin sak het ons skaduwee begin verdwyn. Nood leer bid en op die ou end het ons almal in ‘n ry voor een van die groot bome in die skaduwee van die boomstam gesit. Die volgende dag het dit gerëen. Toe ek hierdie keer die laaste aand in die tent lê en luister na die rëen wat saggies buite val het dit my weer teruggeneem na die dae in Knysna toe die rëen so op die karavaan se dak en tent geval het. Dis die mooiste geluid (as jy snoesig en droog is). Om ‘n nat tent op te pak is egter nie soveel pret nie, en dit verg weer uitpak by die huis sodat dit behoorlik kan uitdroog, maar ons is lief vir ons tenthuisie en al die wedervaringe en herrinneringe wat ons al saam met die tent meegemaak het en wat veilig in die tent se sak weggepak word om volgende keer weer uitgehaal en herleef te word.

Grootwordjare

 

Apologies to non-Afrikaans readers, but every now and then I might write something in my mother tongue, something that’s been nagging in the back of my mind for a while now.

Geskryf na aanleiding van Toeka-Tokkel: Grootword (ek is ‘n so laat met hierdie pos, dis toeka al se onderwerp). Dis redelik lank vandat ek enigiets anders as ‘n nuus email aan familie in Afrikaans geskryf het en toe ek oor die onderwerp begin dink was die eerste ding wat die titel in my gedagtes laat opkom het Laurika Rauch wat sing: “Ek het in my kinderjare…” (uit: “Kyk hoe glinster die maan”). En wanneer ‘n liedjie in my kop vassteek laat los dit my nie sommer nie.

My kinderjare was ‘n tyd van sorgvry kaalvoet loop en wegkruip onder my bed sodat my ma my nie in die werk kon steek terwyl ek Knikkie gelees het nie. Grootword op ‘n kleinhoewe het beteken dat ons na die draad gestap het, ons buremaatjie geroep het en so oor en weer gespeel het. Ons was bevoorreg om spasie rondom ons te hê en nie beklemd net ‘n paar meter van die bure se huis af te woon nie; ons het vars wortels uit die grond getrek, die sand daarvan afgeskud en dit net daar geëet, en net so ook boontjies van die rank af gepluk en geëet met ‘n uitsig oor Tafelberg – soms skoon en oop of andersins toe onder sy wolkekombers. Elke Sondag was daar die heerlikste vars gebraaide hoender vir middagete en wintertye het ons knus voor die antrasietkaggel gesit. Ons het nie geweet van wegneemetes nie, en Spur toe gaan was ‘n groot bederf.

Vakansietye het lang paaie Namibië of Knysna toe beteken. ‘n Boer kan nie sy plaas summier laat staan om te gaan vakansie hou nie so ons het by tye vir twee jaar lank uitgesien na ons volgende weggaanvakansie. Ek kan goed onthou hoe my pa ons ou geel Kombi gepak het sodat ek en my suster albei ‘n lêplek kan hê op die lang pad en op pad Namibië toe in die winter het ons die vensters afgedraai hoe verder noord ons gery en die weer warmer begin raak het. Biltong en naartjies was die beste padkos en hande by die venster uitsteek en die persoon wat voor jou sit deur die oop venster met ‘n sproei van gedrukte naartjieskil verras, die beste vermaak. Later jare het ons kinders die dorpe langs die N7 geken en ons vordering so gemeet en ek onthou nog die kamele by Noordoewer waar ons soms oorgeslaap het. Stilhou by Vingerklip (en weer en weer op volgende geleenthede want ek het so baie daarvan gehou ek het altyd gevra om weer te gaan kyk) en die wonder van die natuur aanskou en dan ook jare later in Desember 1989 weer daar stop net na die beroemde klip hartseer geval en verkrummel het. Die enkele keer wat ons (as ‘n baie groot bederf) Windhoek toe gevlieg het vir ‘n kort vakansie was vliegtuigry nog ‘n formele affêre en ons het ons beste klere aangetrek (en is ironies op die vliegtuig deur rokers omring) en deur vriende van my ouers by die lughawe opgetel met hulle bakkie en ek en my pa het agterop gesit in ons Sondagklere tussen die koffers. Wind in die hare gesoek wie kan die eerste wild raaksien.

Buite Grootfontein op ‘n plaas by ander vriende het ek die wonder van suurroom wat gemaak is van vars melk ontdek, en leer biltong maak in ‘n vleiskamer wat slegs gaas gehad het vir vensters sodat die biltong en droëwors kon winddroog, maar wat ook beteken het ons hande in die nat biltong het gevries totdat ons nie ons vingers kon voel nie. In my geestesoog sien ek nog duidelik die prentjie van my vierjarige self wat saam met my ouers en sussie sit op die bankies wat hang agter in ‘n Hercules vliegtuig – een waarvan ek die dreuning enige plek sal herken – die keer toe ons vanaf Grootfontein na Pretoria lugmagbasis gevlieg het na my bababoetie oorlede is terwyl ons met vakansie was, en sy klein wit kissie voor ons. ‘n Herinnering wat ‘n groot indruk gemaak het maar nie mooi verstaan is deur ‘n vierjarige nie.

Die pad terug vanaf vakansies in Namibië was sinoniem met kouer en natter weer en male sonder tal het die Clanwilliam dam oorgeloop teen die tyd dat ons weer daar verbygery het op pad Kaap toe – altyd ‘n teken van goeie rëen. Dieselfde Clanwilliam dam waar ons soms warm somersdae verwyl het op waterski’s. Knysna was waar ek leer waterski het en lekker geval het ook, en die beste tyd van die dag was 6 uur soggens voor al die ander bote wakker geword en die spiëelglad water omgewoel het (al het ek as tiener lekker gekla omdat ek self nog nie mooi wakker was nie en my Pa my en my suster beurtelings die koue water ingestuur het om die boot nader te bring), en oujaarsaande op Knysna was tradisioneel vetkoekaande.

Waterski by Clanwilliamdam in die laat tagtigerjare

Waterski by Clanwilliamdam in die laat tagtigerjare

My liefde vir diere het ook sy oorsprong in my kinderjare en ek kan nie ‘n tyd onthou sonder troeteldiere nie. Die besondere voorreg om ‘n vulletjie present gegee te word in my laat tienerjare deur my suster en swaer en die ondervinding om toe te leer hoe om ‘n jong perd te leer terwyl ek haar geleer het deur ure van liefdevolle aandag en geduld en haar self die eerste keer stadig, baie rustig en in ‘n beheerde omgewing opgeklim het sal ek vir niks verruil nie al het sy my een keer gebyt en ‘n ander keer (per ongeluk) vierkantig op my voet gaan staan.

My vulletjiepresent as volgroeide merrie in die Kalahari

My vulletjiepresent as volgroeide merrie in die Kalahari

En toe ‘n paar jaar later was daar, soos Laurika sing: “’n man so soet soos suiker… en in sy hande ‘n diamant”. En nou, tussendeur die nakom van daaglikse verantwoordelikhede, storm en drang en soms kopstamp met drie spruite wat heeltemal te vinning grootword, die hoop dat ons ons kinders goeie herinneringe van hulle eie kinderjare gee.