(Apologies to non-Afrikaans readers.)
Geskryf na aanleiding van Scrapydo2 se Toeka-Tokkel oor vakansie.
Ons vakansiebestemming hierdie somer was Denmark, ‘n klein dorpie in suidwes Australië, 420 kilometer suid van Perth. (Die dorpie is vernoem na dr Alexander Denmark en die naam het niks te doen met die land met dieselfde naam nie.) Dis gelëe op die Denmark rivier wat uitvloei in die Wilson “inlet”, ‘n 14 kilometer lang en 4 kilometer wye meer wat uitmond in die Suidelike Oseaan.

Uitsig oor Ocean Beach en die monding van die Wilson Inlet
Ons is lief daarvoor om te kamp en in die warmer maande verkies ons om suid te gaan en in die koeler maande gaan soek ons die warmer weer in die noorde. Daar’s ‘n paar karavaanparke in Denmark. Van hulle is in die dorp, ander is langs die rivier maar ons verkies die een wat buite die dorp langs die meer en naby die see is. Daar is baie gras en bome en lekker groot bome rondom die karavaanpark. Vroeg in die oggend hoor jy die voëls sing en die kookaburras lag.

Green’s Pool, ‘n pragtige beskutte strand naby Denmark
Daar is geweldig baie om te doen daar rond. Daar is talle strande met pragtige skoon, wit sand en helder blou water. Wanneer ‘n mens die dag nie lus is vir see toe gaan nie kan jy kano ry op die meer of die rivier. Die eeue oue woude in die omgewing bied ‘n groot verskeidenheid van uitstekende staproetes. Of as jy minder avontuurlustig voel kan jy deur die dorpie met sy interressante winkeltjies drentel en stop vir ‘n rustige koppie koffie in een van die koffiewinkels. Daar is ‘n paar “op shops” (winkels wat tweedehandse klere en huisraad verkoop) op die dorp en ‘n mens loop soms goeie winskopies in hierdie winkels raak. Tweedehandse winkels is deel van die Australiese kultuur en mense trek nie hulle neuse daarvoor op nie. ‘n Mens kan baie goeie klere teen ‘n fraksie van die prys hier kry as jy bereid is om ‘n bietjie te snuffel. Die “Valley of the Giants” (‘n vallei met massiewe ou “red tingle” bome) en die “Treetop Walk” (‘n staalkonstruksie waarop ‘n mens hoog bo die woudvloer loop vir omtrent 600 meter, en waarvan die hoogste punt omtrent 40 meter bo die grond is) is nie ver nie. Historiese Albany waar die eerste Britse nedersetting in Wes-Australië was en vanwaar die ANZAC troepe in 1914 gevaar het na die Eerste Wêreldoorlog, is so 65 kilometer na die ooste. En helaas, as nie een van hierdie jou belangstelling prikkel nie is daar wynplase en ‘n brouery nie ver daarvandaan nie.

Uitsig na Ocean Beach en die Wilson Inlet vanaf Monkey Rock waar ons gaan stap het

‘n Baie ou “Red Tingle” boom naby Denmark

‘n Deel van die “Treetop Walk”, geneem in 2005 tydens ons eerste besoek
As kind het ons soms in die somer by Knysna langs die meer gaan kamp. Brenton-on-Lake was die karavaanpark se naam. Ek weet nie of dit nog bestaan nie. Dit was in die dae voordat die area daar rondom ontwikkel is. In my geestesoog sien ek nog die brug oor die meer na Knysna en dan draai die pad na Brenton af kort voor die brug en maak so ‘n perdeskoendraai voor die pad verby Belvidere (met ‘n pragtige ou kerkie) loop vir die laaste paar kilometer na die karavaanpark.
Die Knysna-meer is waar ek leer waterski het en die somer toe ek die ligamente in my knie twee hartverskeurende weke voor die skoolvakansie geskeur het en waterski met krukke nie ‘n opsie was nie, die wonder van “paddle ski” ontdek het. Om alleen op die water te wees in die rustigheid van die vroëe oggend is iets wat ek altyd sal onthou. ‘n Paar jaar gelede toe my man wou weet wat ek wil hê vir my 40ste verjaarsdag het ek gesê: “’n kano”, en dit gee my eindelose vreugde. Daai somer het ons ook in Denmark gekamp en ek het baie gaan roei op die rivier en in die meer. Ek was vasberade om te roei van waar ons karavaanpark was tot by die dorp – 11 kilometer. Dit was ‘n koue, grys, winderige dag en die water was alles behalwe kalm. (Dis ‘n ander ding van Denmark – net soos Knysna – kan dit in die middel van die somer soms koel raak en rëen.) Ek het net aanhou roei in die basiese rigting van die riviermonding maar kon nie te veel of te ver sien nie want die wolke het laag oor die water gehang. Ek was vasbeslote en het dit uiteindelik gemaak, omtrent twee uitmergelende ure later (ek is nie roeifiks nie), en reg om ‘n warm, vars pastei by die bakkery te gaan verorber.
Hierdie jaar het ek weer op die meer gaan roei, en dit was weer bewolk en koel maar die water was lekker kalm. Ek het gewens ek het ‘n kamera by my gehad want daar was soveel watervoëls. In een swerm het ek 88 swart swane getel, en daar was verskeie swerms. Wanneer ek naby gekom het en hulle begin bang raak en probeer wegvlieg het was dit iets om te aanskou. Dit kan nie maklik wees om daai groot liggaam met die lang uitgestrekte nek uit die water uit in die lug te kry nie, en wanneer hulle wegtrek hoor jy iets klap-klap-klap-klap op die water. Toe ek nader aandag gee (ek het eers gedink dis die vlerke wat so klap op die water) sien ek hulle hardloop op die water totdat hulle voel hulle is hoog genoeg om hulle vlerke te vertrou om hulle in die lug te hou. Dis die pote wat so klap-klap op die water. Dit was kostelik. Die pelikane het iets soortgelyk gedoen maar dit het gelyk asof hulle met altwee pote tegelyk die water “skep” terwyl hulle in die lug probeer kom.

Pelikane op ‘n eilandjie in die Wilson Inlet
Ek dink soms dat hierdie omgewing sy eie klein mikroklimaat het, so ver suid met baie rëenval en omring deur woude. Die weer was redelik koel toe ons daar was terwyl dit 35 grade was in Perth. Vier jaar gelede toe ons in die somer daar gekamp het was dit eendag 37 grade en dit het niks afgekoel later in die dag nie. Ons het piekniek gehou langs die rivier onder die bome maar toe die son begin sak het ons skaduwee begin verdwyn. Nood leer bid en op die ou end het ons almal in ‘n ry voor een van die groot bome in die skaduwee van die boomstam gesit. Die volgende dag het dit gerëen. Toe ek hierdie keer die laaste aand in die tent lê en luister na die rëen wat saggies buite val het dit my weer teruggeneem na die dae in Knysna toe die rëen so op die karavaan se dak en tent geval het. Dis die mooiste geluid (as jy snoesig en droog is). Om ‘n nat tent op te pak is egter nie soveel pret nie, en dit verg weer uitpak by die huis sodat dit behoorlik kan uitdroog, maar ons is lief vir ons tenthuisie en al die wedervaringe en herrinneringe wat ons al saam met die tent meegemaak het en wat veilig in die tent se sak weggepak word om volgende keer weer uitgehaal en herleef te word.
Lekker saam met jou gekamp.Dit lyk na ‘n pagtige omgewing en mooiste foto’s!
LikeLiked by 1 person
Dankie! Ja dis baie mooi daar.
LikeLiked by 1 person
Dit is pragtig daar in julle Denmark en ek sou darem graag die Treetop Walk wou doen. Ek is nou nie juis ‘n kampeerder van formaat nie (gemaksugtig!), maar ek het nou baie lekker vakansie gehou saam met jou.
LikeLiked by 1 person
Die Treetop Walk is regtig iets spesiaal, ek wil dit ook weer ‘n slag doen want die kinders was baie klein toe ons laas daar was. Ek hou ook maar van my luukshede wanneer ons kamp (filterkoffie, kampyskassie en ‘n behoorlike “self-inflating” matras vir gemaklik slaap!).
LikeLiked by 1 person
Dit lyk na n pragtige omgewing, ek kan sien hoekom julle dit so geniet het daar!
LikeLiked by 1 person
Dit is, ons is baie bederf.
LikeLiked by 1 person
Dit was nou heerlik om saam te kamp. Dit lyk beslis of dit n wêreldjie op sy eie is. Wys tog elke land het sy eie besonderse natuurskoon om te geniet. Dankie vir die lekker vakansie en die deelneem aan TT.
LikeLiked by 1 person
Dankie, ja daar is so baie natuurskoon om te waardeer.
LikeLike
Ek hoor van ouens hier wat gereeld gaan dat daar baie mooi plekke is.
LikeLiked by 1 person
Pingback: Toeka-Tokkel no 5: Eerste troeteldier/stokperdjie – I scrap 2
Mooi foto s
LikeLiked by 1 person
Dankie!
LikeLike
Shoe… dis so mooi en rustig!! Goed vir die siel! 😉
LikeLiked by 1 person
Ja dit was baie goed!
LikeLike
Wat ‘n pragtige plek, ek sal nie omgee om daar te kamp nie.
LikeLiked by 1 person
Ja dis ‘n pragtige omgewing, ons is baie bederf. Dankie vir die inloer.
LikeLiked by 1 person
O jy vertel so mooi! Dit laat my terugdink aan die jaar toe ons daar getoer het. Dankie!
LikeLiked by 1 person
Baie dankie! Waar het julle orals getoer? Dankie vir die inloer.
LikeLike